Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Petrusville

Portefeulje:  Opvoeding;  Leefstyl

Beriggewer:  Alta Waldeck

Datum:  17 Februarie 2015

 

Sonder  visie is die lewe dood.  God het met elkeen van ons ‘n plan.  Volgens die HAT is visie hoe mens kyk na dinge, jou siening van ‘n saak.  Mens het ‘n innerlike siening wat betekenis gee aan dit wat ons sien.  Jy bereik daardeur jou geestelike ideaal.  Dinge word “oopgemaak” en jy “sien” dit.  Jou oë word deur openbaring van God oopgemaak.  Hoe ons kyk, hoe ons interpreteer en sien, waarna ek streef, word deur God geopenbaar.

 

‘n Vrou wat met visie leef, sien haar eie waarde raak.  Ons sien dikwels nie ons eie waarde raak nie as gevolg van ons man, kinders, werk en huishouding.  Die vrou het ook behoeftes en moet soms haar eie ek neerlê om haar waarde in die lewe te besef.

 

‘n Vrou met visie leef haar eie menswees uit.  Uit haar verhouding met die Skepper, dien sy haar man en kinders.  God het Eva nie geskep om Adam te dien nie, maar om uit ‘n verhouding met God te leef.  God was die eerste wat Eva gesien het nadat sy geskep is. Moenie op ‘n “ekkerige” manier leef nie.  God het bepaal waar elke vrou haar vandag bevind.  Elke vrou is uniek en moet jou nie vergelyk met ander nie.  Aanvaar jouself  op aarde met jou unieke doel.

 

Vroue met visie kyk na ander deur ’n bril van liefde. Moenie tonnelvisie hê nie – kyk wyd. Moet ook nie met vooroordeel kyk na ander nie.  Sien die groter prentjie raak en nie net die negatiewe nie.

 

Vroue met visie kyk na omstandighede met openbaring van God.  God laat my nooit alleen nie.  As mens na die groter prentjie van jou lewe kyk, sal jy eendag sien waar lê die moeilike tye en hoe dit inpas in jou lewe.  Sien die teenwoordigheid van God raak tydens ‘n chaos-tyd in jou lewe.

 

Wie is ek? Ek is ‘n unieke vrou met visie deur God geskape, hier op aarde geplaas, en ek kyk na ander deur God se oë.

 

Tappas is Spaanse peuselhappies wat genuttig word na die siësta voordat mense inval vir die middagwerk.  Letterlik beteken dit “dekseltjie”.   In die 17e eeu het die Spaanse koning en sy geselskap gereis met koetse deur die land toe hy tydens ‘n verposing ‘n glasie wyn wou drink.  Omdat dit baie stowwerig was, het die dienskneg wat die wyn geskink het, ‘n snytjie kouevleis  bo-op die glasie gesit om die stof uit die wyn te hou.  Die koning het so baie daarvan gehou dat hy met elke ruskans langs die pad weer ‘n vleis ”dekseltjie” op sy glasie wyn wou hê, en so het tappas ontstaan.

 

Tappas is allerhande geurige peuselhappies wat saam met wyn bedien word.  Alles word met die hand geëet en gaan gepaard met gesellige samesyn.

 

Marise de Villiers (saamroeper van Leefstyl)  het verskeie tappas voorberei waaraan die lede na die vergadering kon proe.  Daar was onder andere geroosterde bruschetta brood, met olyfolie en vars tamatiesap, vishappies, chorizo-happies en lamsmaalvleisfrikkadelle op ‘n stokkie.  Ook soethappies is voorgesit.

 

 

ww (Custom) (2)

Hanneke Potgieter (spreker), Frances Herholdt (tak voorsitter), Irene Labuschagne (gasvrou), Marise de Villiers (spreker)