Sirkel: Tygerberg
Tak: Brackenfell
Beriggewer: Bets Van Biljon
Datum: 17 Februarie 2015
Brackenfell VLV lede het ‘n besondere ondervinding gehad toe hulle ‘n treinrit aangepak het vanaf Brackenfell na Kalkbaai. 17 Persone, 15 dames en 2 mans, arriveer 9H00 die oggend op die Brackenfellstasie, baie opgewonde oor die dag wat voorlê.
Toe die lede kaartjies wou koop, word hulle meegedeel dat almal bo die ouderdom van 60 jaar, elke Dinsdag gratis kan ry! Wat ‘n storie! Almal se ID boekies word gevra sodat die besonderhede neergeskryf kan word. Almal het nie hul ID boekies by hulle nie, en met die hulp van die stasiemeester, kry hulle hul kaartjies. Ongelukkig vir die jongeres, moes hulle maar kaartjies koop.
So begin die treinrit. Die lede klim oor op Kaapstadstasie, baie onseker van onsself. Gelukkig sien ‘n ou dame die lede se dilemma, en sê dat hulle haar moet volg. Sy onderneem elke Dinsdag die rit.
Na ‘n 2 uur rit al langs die see kom ons in Kalkbaai aan. Almal was baie opgewonde en vrolik en het heelpad gesels. Daar aangekom om 11H30, word daar besluit dat hulle eers ietsie gaan eet. By “Kalky’” aangekom, het almal heerlik gesmul aan vis en skyfies.
Daar was ‘n lieflike atmosfeer, kompleet asof almal toeriste was wat daar rondgedrentel het. Die lede het oral by winkeltjies en stalletjies ingeloer en later roomys gekoop wat hulle sommer buite die winkel op bankies gesit en eet het, terwyl hulle die mense bekyk.
Uiteindelik moes die lede die terugrit aanpak en soos alle goeie dinge het hulle uitstappie ook tot ‘n einde gekom.
Moeg en gedaan van die hitte het die lede 16H00 weer op Brackenfellstasie arriveer, tevrede dat almal hulle uitstappie terdeë geniet het.
Leave A Comment