Sirkel:  Kalahari

Tak:  Vryburg

Portefeulje:  Opvoeding

Beriggewer:  Nellie Viljoen

Datum:  17 Februarie  2015

 

vryburg

 

Vryburg VLV het ‘n insiggewende vergadering gehou met Carien-Mari Brink as spreker.  As fasiliteerder van die Mind Moves Institute het sy gefokus op leerprosesse, waartydens kennis en vaardighede verwerf word.  Die sensoriese sisteem soek na inligting, die brein verwerk die inligting, terwyl die motoriese sisteem (spiere) reageer op inligting.  Die brein ontvang sensoriese boodskappe en stuur dit na verskillende dele van die liggaam.  Indien die verbindingsnetwerk nie goed ontwikkel het nie, kan dit lei tot stadige reaksies en swak uitvoering van opdragte.

 

vryburg1

 

Beweging speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van die baba se liggaam en brein.  Kriewel/kruip is nie alleen ‘n belangrike ontwikkelingsmylpaal nie, maar ook vir die brein.  Dit ontwikkel spiertonus, oog-handkoördinasie en fyn motoriese beheer.  Kruip gee sosiale ontwikkeling ‘n hupstoot en vorm nuwe senuweenetwerke in die brein.

 

Kinders met agterstande in ontwikkeling se spiertonus kan deur oefening en massering verander.   Die ouer is veral hier betrokke. Deur multi-sensoriese leer en herhaling kan die brein beter boodskappe stuur sodat die kind makliker kan leer, beter onthou en  meer wil leer. Die fokus is nie op onderrig nie, maar om ‘n liefde vir leer te ontsluit.

 

Waar begin selfvertroue en selfbeeld in die leerproses?    Dit is belangrik dat kinders fisiese, emosionele, sosiale en intellektuele vaardighede moet bemeester.

 

Verskillende faktore kan die verbindingsnetwerk beïnvloed soos oormatige suiker, tin of alluminium of stres. Trauma voor of na geboorte kan daartoe lei dat die kind intense angs ondervind. Verbasende resultate word na tyd gevind met die toepassing van spesifieke oefeninge van die Mind Moves Institute.

 

vryburg2

 

Marietjie Steyn demonstreer hoe blomme uit eierhouers gemaak kan word.