Sirkel:  Kimberley en distrik

Tak:  Douglas

Portefeulje:  Leefstyl

Beriggewer:  Hanneke Botha

Datum:  17 Februarie 2015

 

douglas

 

Douglas se VLV tak skop die jaar af met entoesiasme en ‘n positiewe uitkyk op al die heerlikhede wat voorlê.

 

Demonstrasie: Collette Cohen maak haar eie parfuum en deel so ‘n bietjie haar geheime met die dames. Geure wek herinneringe op, soos die digter DJ Opperman pragtig beskryf in sy gedig “Sproeireën”:

 

My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand..iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!

 

Die idee van parfuum het by die Egiptenare begin. Hulle het blomme gepars om die geur vry te stel. Die Grieke en Romeine het dit toe oorgeneem en die Grieke het dit baie dikwels in godsdienstige rituele gebruik. In die laat 18de eeu was daar ‘n oplewing in Venesië van parfuum-makery en daar is toe uitgevind dat geure nie net van blomme verkry kan word nie, maar dat mens sintetiese geure kan maak.

 

Vandag is daar ‘n wye verskeidenheid essensiële olies beskikbaar. Net soos daar ‘n kleurblok is, is daar ook ‘n geurblok en sekere reuke pas beter by mekaar en werk beter saam as ander. ‘n Geur is baie persoonlik en elke mens “dra” ‘n reuk anders, soos elke vrou weet.

 

Essensiële olies kan ook gebruik word om ander produkte te maak, bv. growwe badsout en badolie. Parfuum word nie net op die lyf gebruik nie, maar kan ook as kamer sproei of beddegoed sproei aangewend word.

 

Die samestelling van parfuum is eintlik baie eenvoudig. Dit is ‘n basisolie met ‘n geurmiddel en alkohol of water. Parfuum is die effektiefste as dit aangewend word op die polse of op die adamsappel, want dit is waar die are die vlakste onder die vel lê. Coco Chanel het gesê dat ‘n mens parfuum moet aanwend waar jy gesoen wil word!

 

douglas1

 

Ria Badenhorst leer die dames hoe om ‘n knoop ordentlik en op die regte manier aan te werk. Sy verduidelik die verskil tussen ‘n horisontale en ‘n vertikale knoopsgat asook die verskil tussen ‘n mans- en ‘n dames knoopsgat. Dit is belangrik om jou knoop met ‘n “stammetjie” of “steeltjie” aan te werk sodat daar genoeg spasie is en die knoop nie gestrem word nie. Sy wys prakties hoe dit gedoen word deur die hulp van ‘n tandestokkie wat mens tussen die knoop en die materiaal hou terwyl die knoop vasgewerk word. Al die dames het hulle eie stukkie materiaal en knoop gehad wat hulle toe vasgewerk het.

 

douglas2

 

Na afloop van die interessante praatjies geniet die dames vrugteslaai en roomys.