Sirkel:  Kalahari

Tak:  Mimosa

Portefeulje:  Gesondheid

Beriggewer:  Erika Linde

Datum:  16 Februarie 2015

 

 

Carma Venter het die dames kom toespreek oor verskeie gesondheids aangeleenthede.

 

mimosa

 

Sy het ondermeer genoem dat ‘n mens beheer moet neem oor jou eie gesondheid. As mens sukkel om spanning te hanteer, kan enige liggaamlike oefening , asemhalings oefeninge en positiewe gedagtes help om daarvan ontslae te raak. Soms skryf geneeshere ‘n middel voor wat bedoel is vir ‘n kort tyd om te help met stres, en dan gebruik die pasient dit langer as bedoel en dan raak die persoon afhanklik van die middel. Ook word groter dosisse dan geneem om dieselfde effek te verkry, en raak die persoon heeltemal afhanklik van voorskrif medisyne. Dikwels wissel persone van geneeshere en dan is die een nie bewus van die medikasie wat die pasiënt neem, en kan dan ook ‘n probleem veroorsaak.

 

Dis ook raadsaam om ‘n goeie verhouding met jou apteker te bou, aangesien elke pasiënt ‘n profiel op die rekenaar het en indien daar enige allergiese toestande is, word dit aangeteken. Kroniese medisyne word dan ook goed beheer. Neem vrymoedigheid om die apteker se raad te vra.

 

Onlangs het ‘n apteker van die betrokke apteek ‘n kompliment van ‘n spesialis in ‘n groot stad ontvang. Hy het ‘n pasiënt vir ‘n sekere toestand behandel. Die middel het newe effekte op die pasiënt gehad wat tot die gevolg gehad het dat die pasiënt asma ontwikkel het. Danksy die flinke optrede van ‘n apteker is die persoon betyds van die medikasie gehaal en kon sy gehelp word.

 

Indien mens elders siek raak, en nie die nodige voorskrif medikasie het, kan die huisarts se kantoor die voorskrif deurfaks en dan kan mens so gehelp word.

 

Medikasie met ‘n vervaldatum kan 3 maande na die vervaldatum gebruik word. Dit kan dalk minder effektief wees.

 

Sy het ook gewaarsku dat die dames uiters versigtig moet wees om medikasie aan plaaswerkers uit te gee. Sommige middels kan ‘n reaksie veroorsaak en dan ontbreek die nodige kennis om die situasie te hanteer.

 

Dames moet ook seker maak dat hul mediese fonds ambulans dienste dek. Dikwels gebeur dit dat dit nie die geval is tot nadeel van die pasient.