Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Britstown

Portefeulje:  Landbou en Tuinbou en Opvoeding

Datum:  10 Februarie 2015

 

Op Dinsdag, 10 Februarie, kom ‘n paar opgewonde VLV-dames en here by Wintershoek Safari’s bymekaar vir ‘n heerlike bederftydjie.

 

Die uitstappie sluit ‘n wildrit in waar die dames leer dat die waterbok ondanks die naam “Waterbok” nie lief is om water binne te gaan nie.  Wanneer is ‘n bok ‘n ooi/ram en wanneer ‘n koei/bul?  Kenners meen dat wanneer die vroulike dier twee spene het, is sy ‘n ooi en wanneer sy vier spene het, is dit ‘n koei.  Die manlike eweknie val dan maar hierby in.  ‘n Skemerkelkie en verversings word in die veld geniet.

 

Wintershoek Februarie 2015 059 (Custom)

2 bekwame bestuurders, Anita Rust, Sunel J. v Rensburg, Elsa Human, Wilma Strauss, Ideka Visser, Marthie Oosthuisthuizen

Woensdagoggend  vertrek hul  na die rehabilitasiesentrum.  Hier ontmoet hul ‘n bruin Haiina, rooikatte, jakkalse, perde, baba renosters, springbokke, blou apies en ‘n klein buffel.   ‘n Interessante feit is dat nagdiere ‘n wit streep onder die oë het om snags goed te kan sien, en diere wat in die dag jag, het ‘n swart streep om die son weg te keer gedurende die dag.

 

Die renostertjies het veral aandag getrek.  Hulle drink ongeveer 4 liter melk 4 keer ‘n dag.

 

Die meeste van die diere word weer vrygelaat indien dit moontlik is.

 

Hierna volg ‘n besoek aan die kleurterskool wat op die plaas begin is vir alle werkers se kinders. Die skooltjie spog met 17 kinders tussen 3 en 6 jaar oud. Benewens opvoeding, kry hulle ook maaltye.

 

sunel jansen van rensburg (Custom)

Sunel J v Rensburg wys hoe groot die krododil se kake ooprek!

Na ‘n vinnige ligte middagete, word die taksidermis besoek.  Hier word gesien hoe die proses verloop vanaf die ontvangs van die velle en horings totdat dit gereed is om verkoop te word.  Velle en horings word met dieselfde kode op 5 plekke gemerk om te verseker dat hulle by hul eienaars uitkom.  Die horings word goed gekook en daarna in peroside gesit totdat dit spierwit is.

 

Die velle word in pekel laat lê sodat dit dikker kan raak.  Daarna word dit in Lutan FN geweek sodat die hare nie moet uitval nie.  Die velle se binnekant word dan weer dunner gesny en die stukkende plekke heelgemaak  voordat dit gespan word om droog te word.  Hierna word die vel  in ‘n drom saam met mieliesemels gegooi om dit te brei. Daarna word dit glad geskuur, weer heelgemaak en dan word dit oor “moulds” getrek.  Dit word mooi gepas en vasgekram.   Wanneer dit droog is, kom die oë en horings by.