Sirkel: Weskus
Tak: Porterville
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Louwna Hoving
Datum: 5 Februarie 2015
Elke Saamroeper was ‘n gasvrou vir haar komitee en moes iets interessants meedeel rondom ‘n geliefde teekoppie/-beker.
Louwna Hoving: Haar skoonma se teekoppie ook met ‘n klein keteltjie waaruit sy elke dag op haar agterstoep saam met haar buurvrou tee gedrink het.
Toelie Kalis: ‘n Japanese koppie van hul huishulp toe sy kind was, asook ‘n eetbord wat dateer uit 1898.
Mary-Ann van Schalkwyk: Geblomde teekoppie met ‘n klein keteltjie wat sy as afskeidsgeskenk van haar werk by die Munisipaliteit ontvang het.
Joey Koen: ‘n William James-beker, bone china, met ‘n voetstukkie en kunswerke op wat sy van haar kunstenaarsvriendin gekry het toe sy verhuis het. Sy het geglo mens drink tee uit ‘n voetjiekoppie.
Johanna Rheeder: As 6 jarige-dogtertjie het sy ‘n speelgoedteestelletjie van haar oupa ontvang en dit word nog in die oorspronklike dosie gebêre. Haar ouma het haar geleer dat teetyd gepaard gaan met ‘n skinkbord, hekellappie, kraletjie-doilie oor die melkbeker en dat die tafel mooi gedek moet wees as jy tee drink.
Lydia Liebenberg: ‘n Beker van haar dogter wat sy by haar ouma gekry het toe sy 2 jaar oud was (en sy is nou 33 jaar oud). Sy wou ‘n skoenslapperbeker hê en Ouma het gesoek tot sy een met ‘n skoenlapperprentjie op gekry het.
Dalene Joubert: ‘n Beker wat sy by haar ouma 46 jaar gelede gekry het toe sy koshuis toe is.
Marina Nefdt, van Carmién Tea, vertoon ‘n video van teeproduksie. Die 55 000 hektaar-gebied tussen Citrusdal en Nieuwoudtville is die enigste deel in Suid-Afrika waar rooibostee natuurlik groei. Die produk word bemark as tee en as bestanddeel in onder andere lekkers, badskropprodukte en velprodukte.
Die firma het sy ontstaan gehad deur die vérsiendheid van Mientjie Mouton van die plaas Bergendal in die Citrusdalberge. Tee word in die winter geplant en kan na 1½ jaar geoes word, waarna die fermentasie, oksidasie, sterilisasie en natuurlike droging plaasvind. Dan is dit gereed vir uitvoer in grootmaat en vir verpakking in kleiner hoeveelhede.
Die plaaswerkers is aandeelhouers en daar is ‘n kleuterskool waar die plaaskinders in bewaring versorg word as premie terug aan die werkers. Beurse is ook beskikbaar en ‘n na-skoolsentrum vir die ontwikkeling van die kinders.
Alle produkte word getoets en gradeer en daar is ‘n groot verskeidenheid produkte beskikbaar: natuurlike organiese rooibostee; Rooibos Espresso; kruievermenings vir gegeurde tee soos Blissful Blackcurrant, Creamy Vanilla, Earl Grey Citrus; gesondheidstee soos Delight met Rooibos, Heuningbos en Hoodia; Rescue met Organiese Rooibos en Boegoe; Refresh met Groen Heuningbos, Rooibos en Mint; Focus met Rooibos, Kaneel, Gemmer, Kardomyn, Naeltjies en Swartpeper; Relax met Rooibos, Kamille, Hibus-kus en Rosehip; Inspire met Rooibos, Boegoe, Lemoen- en Kersiegeur; Restore met Organiese Rooibos, Suurlemoengras en Gemmer. Dan is daar ook nog die blomtee met verskillende mengsels.
Die lede kon hul fynproewerstalent gebruik om drie geure te proe saam met sjokolade, spanspek en gemmerbeskuitjies. Die tee is in pragtige glasteepotte bedien wat op glasverwarmers warm gehou is. Lede kon van die produkte en glasteepotte koop.
Marina Nefdt
By die geleentheid het ook sommer 2 nuwe lede aangesluit.
2015 se Bestuur: Agter: Louwna Hoving, Sekretaris/Tesourier; Hester Burger, Openbare Sake; Joey Koen, Gesondheid; Lana du Plessis, Landbou & Tuinbou;
Voor: Lydia Liebenberg, Visevoorsitter/Leefstyl; Alet Steenkamp, Kunste en Handvlyt; Ena Cruywagen, Opvoeding en Kultuur en Mary-Ann van Schalkwyk, Voorsitter
Leave A Comment