Sirkel:  Tygerberg
Tak:   Goodwood
Beriggewer:   Alet Colyn
Datum:   20 Januarie 2015

 
Goodwood begin elke nuwe jaar met ‘n rustige, dog leersame kuieroggend.  Lede het interessante katoeters kom wys en demonstreer asook baie nuttige wenke kom deel.

 
Hanna Albertyn.  Sy het haar besem (of boenertjie) kom demonstreer – dit is van gras uit die Sandveld gemaak en dit maak jou plafonne en vloere skoon.  Sy het ook ‘n handige blikoopmaker kom wys.

 
Martie Beneke en haar kleindogter het ‘n afkoelrak in ‘n kralebergplek, wat jy in jou klerekas se deur vasspyker, omgetower.  As ‘n naaldwerkster is haar soomspuiter baie belangrik.  Sy het ‘n hele paar naaldwerkwenke met die lede gedeel.

 

 

Marcia Potgieter het haar lang lepel wat diep bottels leegmaak en ‘n oulike eierklitsertjie kom wys.

 

 

Retha Pienaar het ‘n wonderlike oopmaker, wat verstelbaar is, vir flesse en proppe gedemonstreer. Joan le Roux het ‘n hakie wat jy oor ‘n pot se rand kan sit, voordat jy die deksel opsit, gewys.  Dit verhoed dat die inhoud oorkook, aangesien die deksek gelig is.  Sy het ook dubbeldoelige handskoene kom wys.  Jy kan jou hele hand daarmee bedek of die flappie afknip sodat jy jou vingers kan gebruik.  Die voorsitter, Wenda Preuss,  het ‘n interessante versierbuis van silikoon kom wys, asook stensils vir versiersuiker.  Sy het o.a. ook knoffel in ‘n glasflessie geskud sodat jy nie nodig het om dit met jou hande skoon te maak nie.  Sy het ook ‘n klomp wenke uit die kombuis met ons gedeel.

 
Valerie du Preez sê dat ons stokkies in die klein jogurtbakkies moet sit en dit dan vries vir yslollies vir die kinders.

 

 

Marina Tromp wys haar plastiekhouer waarin jy eiers in die mikrogolfoond gaarmaak.  Bes van Zyl wys ‘n instrument wat gebruik kan word om koekarretjies netjies uit te sny.

 

 

Feesia Marais noem dat gemmer baie maklik met ‘n teelepel skoongekrap kan word.

 

 

Zylia Fourie sê dat kropslaai en komkommer baie langer vars bly as dit eers in handdoekpapier toegedraai word voordat dit in die plastiek gesit word.

 

 

Paula Furniss sit ‘n eier onder in die gat waarin ‘n boom of struik geplant moet word, veral as dit baie sanderige grond is – sy waarborg dat dit nie sal vrek nie en Bettie Hanekom se tandarts het gesê dat sy ‘n koue teesakkie (nie rooibos) op ‘n bloeiende wond moet sit.  Dit het gewerk toe ‘n tand getrek moes word.

 
Dit was ‘n heerlike en ontspanne vergadering.

 

 

goodwood