Sirkel:  Overberg

Tak:  Kleinmond

Beriggewer:  Hermien Van Zyl

Datum:  25 November 2014

 

 

Die verskillende portefeuljes het elkeen binne 5 minute iets aangebied wat op hulle afdeling betrekking het.

 

 

Openbare Sake het die syfers op die ID-dokument verduidelik sodat jy met indiensneming of aanlynkopies kan vasstel of iemand ‘n RSA-burger of ‘n vreemdeling is.

 

 

Leefstyl (Tuisteskepping) het ‘n heerlike koue, gemarineerde groentegereg wat vooraf berei kan word, voorgesit vir proe en Leefstyl (Naaldwerk) het ‘n vrolike Noot-vir-Noot aangebied waar die lede moes raai watter kledingstuk is in die deuntjie ter sprake wat voorgespeel is op die klavier.

 

 

Kleinmond-afsluiting 003

Marietjie Janse van Vuuren by die twee kersboompies wat sy kunstig versier het.

 

 

Landbou&Tuinbou het ‘n pleidooi gelewer dat lede eerder ‘n inheemse Kersboompie met koop en dan later in die tuin uitplant, as om ‘n denneboom af te kap. ‘n Spekboompie en ‘n sipres is ter illustrasie versier.

 

 

Kunste&Handvlyt het ‘n breidraadkeël versier vir ‘n interessante geskenk en Opvoeding&Kultuur het met die voorlees van die gedig When you thought I was not looking, beklemtoon hoe jy as ouer ‘n kind se selfbeeld kan opbou.

 

 

Gesondheid het getoon hoe niks van die bg enigiets kan beteken as ons nie waak teen kieme en infeksies nie. Die goue reël bly steeds “Was jou hande!” as jy nie jou vakansie wil bederf nie en leer almal in die huis om dit te doen.

 

 

 

kleinmond 1

Die pryswenners nadat Annie Jooste (heel links) die trofeë, geborgde geskenke, geskenkbewyse en prysgeld aan die jaar se deelnemers oorhandig het.
V.l.n.r. Annie Jooste, Mireille Nel, Daphne Loots, Ninnie du Toit, Alice van Rooyen en Hermien van Zyl. (Afwesig: Mariëtta Serdyn en Marie Thomas)

 

 

Annie Jooste, vise-voorsitter, het die pryse oorhandig aan die lede wat deur die jaar in die tak-, sirkel- en VLVK-kompetisies presteer het. Ninnie du Toit, voorsitter, het skoonskip gemaak met Alice van Rooyen en Hermien van Zyl wat beurtelings in die verskillende afdelings tweede en derde was. Ander pryswenners was Marie Thomas, Mariëtta Serdyn, Daphnè Loots en Mirielle Nel. Die pryswenners is ruim geborg deur plaaslike besighede.

 

 

kleinmond2

Kleinmond-takbestuur vir 2015: V.l.n.r. Annie Jooste (vise-voors en saamroeper Leefstyl – Naaldwerk), Ninnie du Toit (voorsitter), Christine Lambrechts (tesourier), Alice van Rooyen (Gesondheid), Ohna de Stadler (Leefstyl – Tuisteskepping), Hermien van Zyl (Landbou&Tuinbou),Thea Britz (Openbare Sake), Carina du Toit (Kunste&Handvlyt) en voor Melene Weyers (sekretaresse en saamroeper Opvoeding&Kultuur)