Sirkel:  Overberg

Tak:  Kleinmond

Beriggewer:  Hermien van Zyl

Datum:  21 November 2014

 

 

Uitstappie na Ina Paarman 010

 

 

45 Lede het hierdie langverwagte uitstappie na die ope dag by die bekende koskenner en -skrywer, Ina Paarman, se pragtige tuin in Constantia meegemaak. Met hulle aankoms het elkeen ‘n uitlegkaart van die 2 hektaar eiendom ontvang en kon elke besoeker volgens haar belangstelling rondloop en rondkyk. Dat hierdie pragtige, boomryke tuin eens deel was van Groot Constantia blyk duidelik uit die erfenisstatus wat ‘n paar reuse kurkeikebome, wat uit die tyd van Simon van der Stel dateer, het. Die dames het hulle verlustig aan die geure van die kruietuin, die pragtige rose en die sagte pers skynsel wat duisende agapanthus aan die tuin verleen. Om elke draai was ‘n nuwe interessantheid, maar ook rusplekkies vir diè wat moeg was van al die kronkelpaadjies teen die helling.

 

 

Uitstappie na Ina Paarman 005

Nà al die trappies wat geklim moes word en die kronkelpaadjies wat gevolg moes word om by al die verskillende afdelings van Ina Paarman se tuin uit te kom, ontspan Ann Meershoek en Alice van Rooyen  eers hier by die swembad voordat hulle die skuins helling van die fynbostuin aandurf.

 

Ina Paarman self was die sprankelende gasvrou in die toetskombuis waar heerlik geproe is aan kolwyntjies wat gemaak is met Ina se nuwe rooifluweelkoekmengsel waarby vrugtekoekmengsel gevoeg is. Probeer dit gerus vir die feesgety! Die tak het ook vir Ina ‘n verrassing gehad toe Hermien van Zyl, ‘n jarelange vriendin, vir haar ‘n VLV 85-roosblikkie met beskuit oorhandig het. Ina verjaar op 15 Oktober, saam met VLVK, maar sy is darem nog nie 85 nie!

 

 

2014 Nov Ina Paarman 114

 

 

Met die vergunning van die gawe bestuurders van die busmaatskappye Angar van Kenridge en Wynland van Wellington, was die volgende stilhouplek, Ina Paarman se fabriekswinkel in Dieprivier waar die dames na hartelus gekoop het en ‘n heerlike uitstappie suksesvol kon afsluit.

 

 

Uitstappie na Ina Paarman 003

Een van die interessanthede in Ina Paarman se tuin is die vier groot Corten Steel Reflection Ponds. Hier sien mens hoe mooi weerkaats die helder kleure van Christine Lambrechts, Sybil Morkel en Mariaane de Wet se klere daarin.