Sirkel:  Kalahari

Tak:  Kuruman

Portefeulje:  Openbare Sake en Opvoeding

Beriggewer:  Petro Spangenberg

Datum:  5 November 2014
 
Marinda Stander is onderwyser by KP Tolo Hoër Tegniese skool waar sy Lewensoriëntering gee aan graad 8 tot 12 leerders.  Sy het aan die hand van ‘n diagram verduidelik hoe entrepreneurskap deur middel van die YES (Youth Enterprise Society) program bevorder en voorgestel word.  Eskom het vroeër vanjaar ‘n kompetisie geloods onder skole en Absa was ook al betrokke.

 
Volgens die YES program en EWET (‘n organisasie in Kwazulu-Natal wat staan vir Education with Enterprise Trust) is dit een van die mees effektiewe maniere om armoede hok te slaan deur entrepreneurskap te bevorder.  Werkskeppers moet die klem kry en nie werksoekers nie! Gemeenskapsorganisasies en opvoeders moet help om werkloosheid te omskep in werkverskaffing. Me Stander is gekwalifiseerd om ‘n kursus aan te bied in die verband en kan meer inligting verskaf.

 

Mev Trudie Knoesen, Kuruman Buurtwagraadgewer,  het met die lede kom praat oor algemene paraatheid en om veiligheidsaspekte in plek te hê en sodoende latere spyt te voorkom.  ‘n Plan in plek spaar baie moeite en hartseer! ‘n Demonstrasie van die handradio het gevolg en veral ouer lede is aangemoedig om dit aan te skaf.  Kuruman spog met ‘n baie sterk Buurtwagstelsel.

 
Marinda Stander is bedank vir haar insette en tyd wat sy as Openbare Sake saamroeper op die bestuur gedien het.

 

Marelie Keuler het op haar unieke manier ‘n voorlesing gedoen uit ‘n roman waarvan haar ma baie gehou het. Victoria is die titel van die roman wat in 1898 geskryf is deur die Noorweegse Nobelpryswenner Knut Hamsun. Dit is later in baie tale vertaal. Daar het ten minste 2 films oor die boek verskyn.  Me Keuler beoordeel ook die blommerangskikkings saam met Mev Bessie Kriek.
 

Hierdie was die laaste vergadering vir 2014 en word op ‘n hoogtepunt afgesluit met die aankondiging van die nuwe bestuur.

 

kuruman