Sirkel: Weskus
Tak: Citrusdal
Beriggewer: Jolien Mouton
Datum: 22 Oktober 2014
Vir die tak se jaarlikse uitstappie besoek die lede Piketberg. Eerste op die lys was Piketberg Museum wat in 1983 deur mnr. AJ (Apie) Liebenberg geskenk is aan Bergrivier Munisipaliteit. In 1998 skuif die museum vanaf Hoogstraat na Kerkstraat, omdat Kerkstraat meer gesentreerd is. Die museum is propvol geskiedenis met ou foto’s, pragtige antieke meubels en selfs ‘n lykswa wat te perd getrek is.
Volgende was die lede na die Toerisme Buro wat in die ou sinagoge net langs die museum is. Anita van Anita’s Bruidswinkel/Naaldwerksentrum en Manswinkel kom vertel die dames hoe haar besigheid gegroei het vanuit haar huis na ‘n klein winkeltjie en toe die 3 besighede. Sy wys van die aandrokke wat hul maak en die produkte wat sy namens bejaardes verkoop. Die bruidswinkel verhuur trouklere en by die Naaldwerksentrum word nie net naaldwerk en herstelwerk gedoen nie, maar jongmense uit die gemeenskap word vakansies ook hier geleer naaldwerk doen.
Laastens besoek die dames Achtervlei by Piket-Bo-Berg. Liebré Eigelaar, algemene bestuurder van Fruit Lips, ontvang die dames by haar ouerhuis en hulle geniet ‘n heerlike middagete onder die koeltebome. Daarna besoek die dames die Fruit Lips fabriek wat gestig is Februarie 2014. Fruit Lips is ‘n fabriek wat konfyte, marmelades, blatjangs en ingelegde vrugte met die hand vervaardig. Eloise Josephs, produksiebestuurder neem die dames deur die fabriek en wys waar die vrugte met die hand afgeskil word, gekook word en dan gebottel, gesteriliseer en ge-etiketteer word.
Daarna vat die dames die pad terug huistoe na ‘n heerlike uitstappie.
Leave A Comment