Sirkel:                         Paarl

Tak:                             Slot van die Paarl

Portefeulje:                Naaldwerk

Beriggewer:               Annalise Loubser

Datum:                       14 Oktober 2014

 

 

paarl

Annerine de Waal (gasvrou), Anneke, Hetta Kirsten, Salome du Toit

 

Een van die lede was bevoorreg om saam met Anneke Cronje aan die begin van die jaar ‘n besoek te bring aan die Amish-mense in Lancaster County, Pensilvanië. Interessante dorpies is Paradise, Bird-in hand, Blue Ball, Intercourse en Virginville.

 

Dit is ‘n groep mense wat a.g.v. hulle geloof ‘n keuse maak om nog tradisionele klere te dra en met perdekarretjies te ry en die wêreldse goed te vermy bv elektrisiteit. Mense kyk snaaks na hulle, maar hulle het die keuse gemaak. Dit is nie ‘n sekte nie, want mense verwar dit met die Mormone (wat wel ‘n sekte is).

 

Die mans se tradisionele klere is swart baadjies, ‘n swart vilt kep of ‘n strooihoedjie en kruisbande. Vroue dra effekleurige rokke met ‘n swart voorskoot wat hulle self maak en kappie, geen krale en juwele nie. Jy mag nie eintlik foto’s van hulle neem nie. Hulle praat ‘n Pennsilvania Dutch, ‘n dialek van Duits.

 

Jy kry 2 tipes Amish: Tradisionele Amish en die Menonites (wat meer blommetjielap dra en McDonalds eet en Pa se hare het brilcreme op.) Voorheen het jy hulle nooit by pizza plekke gesien nie, maar deesdae meer. Daar’s geen spieëls in die huise, geen foto’s, maar wel prente met die stamboom op. Hulle is egter ‘n voorbeeld van liefdevolle gesinne wat alles saam doen bv saam in die ploegland werk, saam kerk toe gaan op ‘n Sondag en agterna saam eet.

 

Die jeug maak klaar met skool, kry een jaar ‘wegbreek’ en moet dan terugkom om Amish te wees. Die kinders wat dan ‘ontsnap’, word verwerp deur die familie. Hulle trou vroeër en het baie kinders. Omdat hulle ondertrou, is daar baie gestremde kinders. By die Caring harts werk hierdie kinders blokke met kruissteek uit en dan werk die ma’s die blokke aanmekaar en kwilt dit. Vroue kwilt alles met die hand in swart. Van die vroue brei ook serpe met die vingers.

 

 

paarl1

Anneke en Annerine met ‘n handgemaakte Amish Quilt

 

Die dames verwonder hulle aan voorbeelde van effe lap en klein Amish kwiltjies asook ‘n groot Amish kwilt wat sy daar gekoop het. Anneke se foto’s wat sy rondstuur, kleur die prentjie verder in. Die Amish-poppe het nie gesiggies nie, want die een mag nie mooier as die ander wees nie. Hulle gebruik baie spelde i.p.v. knope. Selfs die soom van ‘n rok word vasgespeld.

 

Verder hoor ons ‘n voorlesing uit Die Burger van Anne Myers wat sê ‘Passie vir werk hou jou jonk’. Sy word elke dag blymoedig wakker, is bly en dankbaar vir alles; haar bottels en glase is altyd halfvol!  Voorwaar ‘n vrou met wysheid by wie mens baie kan leer en so vertrek ons terug na ons huise, gevoed na liggaam en gees!