Sirkel: Kimberley en distrik

Tak:  Douglas

Portefeulje:  Leefstyl

Beriggewer:  Hanneke Botha

Datum:  14 Oktober 2014

 

Op ‘n heerlike Dinsdagmiddag het al die dames saamgetrek by Marie Jacobs se huis langs die rivier – sowat van ‘n mooi uitsig het die dames lanklaas gehad!

 

 

douglas

Magda Vlok

 

Magda Vlok en Ria Badenhorst vertel vir ons alles wat hulle weet van preservering – ‘n kuns wat al baie oud is, maar nog steeds net so lekker. Magda beveel aan dat ons die boek “Lekker vir Later” deur Annette Human moet aanskaf. Sy sê dat sy omtrent al haar resepte uit hierdie gunstelingboek maak. Preservering het partykeer baie voorbereidingswerk en ‘n mens moet kwaliteit produkte gebruik. Magda waarsku dat nuwe deksels elke keer gebruik moet word, want die ou deksels seël nie altyd reg nie. ‘n Mens kan letterlik omtrent enige ding preserveer. Dit is lekker en interessant om met verskillende produkte en verskillende geure te eksperimenteer. Gebottelde produkte kan baie lank op die rak staan en lyk tog so mooi!

 

 

douglas1

Ria Badenhorst

 

Ria wys die dames hoe om ingelegte beet te maak. Dit is belangrik om die bottels ordentlik te steriliseer en goed te seël. Vir ‘n moeë mamma is dit voorwaar ‘n uitkoms om sommer “uit die bottels” te eet op ‘n aand wanneer daar nie krag is vir koskook nie.

 

 

douglas3

 

 

Hanneke demonstreer gee wenke aan die dames wat hul lewens kan vergemaklik, byvoorbeeld die feit dat ‘n mens ‘n ongekookte spaghetti aan die brand kan steek om ‘n kers wat diep in ‘n houer is en nie deur ‘n vuurhoutjie bygekom kan word nie, aan die brand te steek.

 

Marie lees ‘n artikel oor bruidskoeke wat kom uit die Landbouweekblad van 13 April 1965. Die artikel vertel van die ontstaan van die troukoek en die tradisies en gewoontes rondom hierdie heerlikheid. Die volgende is ‘n uittreksel uit die artikel:

“Die ontstaan van die bruidskoek dateer uit die vroeë Romeinse Ryk, hoofsaaklik gebak en gebruik deur die aristokratiese families. Die ander kon dit nie bekostig nie. Wanneer die paar aan die bruidstafel gaan sit het, is ‘n sekere soort koek oor die hoof van die jong bruid gebreek as simbool van die oorvloed wat op haar wag. En elke gas kon dan daarna één stukkie van hierdie koek neem om sy of haar eie “oorvloed” in die toekoms te verseker. Maar net één stukkie mag geneem word, soos die gebruik vandag nog bestaan. Het ‘n gas meer as een gegaps, het dit sy of haar hoop op toekomstige oorvloed outomaties gekanselleer, omdat gulsigheid ‘n vergryp was wat nie geduld kon word nie!! U sien dus waarom bruilofsgaste nie veronderstel is om vandag nog meer as een stukkie van die bruidskoek te neem nie.”

“’n Navolgenswaardige wenk van die Amerikaners is om die vrugte vir die koek in stroop te doop voor dit gebruik word. As dit op hierdie manier gebak word, kan ‘n stukkie troukoek gebêre word tot op u eerste troudag-herdenking, en dit sal nog lekker wees.”

 

Na afloop van die praatjie geniet die dames tee en allerlei heerlike eetgoed. Voorwaar ‘n middag om te onthou!

 

 

douglas2