Sirkel:   Overberg

Tak:   Kleinmond

Portefeulje:   Landbou&Tuinbouvergadering

Beriggewer:   Hermien Van Zyl

Datum:   30 September 2014

 

 

Kleinmond Landbou&Tuinbou 003

 

 

“O, blomtuin vol van kleure………………….”!

 

 

Dit was waarskynlik die gewaarwording van lede en gaste wat hulle by die Kleinmond-tak se Landbou & Tuinbouvergadering kon verwonder aan ‘n uitstalling van uitsonderlike orgidieë en kompetisie-rangskikkings van fynbos in emmers en gieters wat die asem weggeslaan het.

 

 

Kleinmond Landbou&Tuinbou

Marinus Nolte word deur Sybil Morkel bedank vir sy interessante praatjie

 

 

Marinus Nolte, plaaslike orgidieëkweker en –kenner het die taklede kom toespreek oor die versorging van orgideë in die huis: “Hoe gemaak met daardie present-orgidee van my verjaarsdag/herdenking of watter geleentheid ook al.” In hulle natuurlike omgewing groei orgideë soos die bekende mot-orgidee, Phalaenopsis, aan boombasse in die vogtige, warm, bedompige atmosfeer van lande soos Thailand. Daarom moet probeer word om daardie toestande vir die orgidee in die huis te skep met daaglikse fyn watersproei uit ‘n spuitkannetjie en wortels wat nie in die water staan nie. Die houer met groeimedium moet verkieslik op ‘n laag klippies staan, nie in direkte sonlig nie en op ‘n beskutte plek. Die goue reël t.o.v. voeding en water bly weekly, but weakly. As aandenking is elke lid verwelkom met ‘n kaartjie van handgemaakte papier met ‘n orgidee daarop.

 

 

In haar besondere keuse en voorlesing van sewe gedigte het Nienie Burger ook die klem laat val op die natuur.  Dit was soveel mooier om te hoor hoe Boerneef die rooi en geel van herfs beskryf as om dit stilweg te lees. Van Charles Fryer en Jan Swanepoel is ook natuurgedigte voorgelees, maar daar is spesiaal stilgestaan by die mooi beskrywings van D.J. Opperman om sy 100ste geboortedag te gedenk.

 

 

Kleinmond Landbou&Tuinbou 001

Hermien van Zyl, taksaamroeper vir Landbou&Tuinbou oorhandig die Rooielsboompie aan Wouter Hugo

 

 

Wouter Hugo het namens Laerskool Kleinmond ‘n Rooielsboompie kom ontvang om by die skool te plant. Hierdie besondere inheemse boom is deel van die natuurerfenis van Kleinmond en dus heel gepas om Erfenis- en Boomplantmaand mee te vier. ‘n Gelamineerde kopiè van die  samestelling van die boom se kenmerke is ook oorhandig en fotostate daarvan aan die lede.

 

 

Pienk strikkies is vir al die lede aangesteek om borskankerbewustheid gedurende Oktober te bevorder en dr Jeanette Fischer het aan die lede demonstreer hoe hulle maandeliks hulle borste moet ondersoek vir vroeë opsporing van kankergewasse.

 

 

2014 september vlv 074

 

Marie Louw (regs), voormalige president van sirkel Tygerberg, het ook kom inloer en lekker gesels met Nelie Ungerer (links) en Hermien van Zyl