Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Victoria-wes

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Elize Perrin

Datum: 19  September 2014

 

 

Die jaarlikse Leefstyl vergadering het op ‘n heerlike sonskyndag plaasgevind. Die tema van die vergadering was om te wys hoe die “oue” weer nuut kan word. Me. Sinclair het na opening ‘n inleiding gegee oor hoe die voorgeslagte se meubels, en selfs klere, weer hul plek in die modern samelewing inneem.

 

 

Mevrou Joan Human het vertel hoe sy geregte rook met ‘n koekpan/swartpot waarin rooibosblare en akkerskaafsels geplaas word. Van die aartappelgeregte kon geproe word. Daarna is aandag aan skuimpies (“meringues”) gegee en ook gewys hoe kolwyntjies in ou koppies ‘n teetafel kan opkikker. Natuurlik kon die dames gedurende teetyd aan al die lekkernye proe. ‘n Rooibostee beskuitresep en ‘n resep vir Bybelse pannekoek, is ook met die dames gedeel. Laasgenoemde is deel van navorsing wat in Israel gedoen is oor Bybelse kos. Die vermoede bestaan sterk dat dit ‘n gereg is wat deur Salomo geëet is.

 

 

Mevrou Maggie Hugo het kortliks vertel van hekelgroepies wat in die dorp ontstaan het.

 

 

SANYO DIGITAL CAMERA

 

 

As deel van Erfenismaand is elke dame versoek om ‘n stukkie erfenis saam te bring en die storie te kom vertel. Daar was onder andere ‘n tonteldoos, ou Massawatteeblik met gare en knope van ‘n ma, juweliersware van ‘n ouma, ou Bybel en kamera, ‘n lepeltjie met gatjies waarin teeblare geplaas is om tee te maak en vele meer. Me. Human het twee handwerkstukke vertoon wat uit die voorgeslagte dateer. Die inkopiesak wat uit die oorlogtyd dateer, was haar skoonma, me.Bettie Human, s’n. Die tafelloper  is deur haar man se ouma, me. Cielie van Heerden , gemaak. Die artikels is onderskeidelik in 1935 en 1940 gemaak en was albei konferensie artikels wat pryse gewen het. Daar is ook ‘n sakdoekie gewys wat ‘n geskenk aan me. Bettie Human was en wat sy by haar ouma gekry het.

 

 

SANYO DIGITAL CAMERA

 

 

Die dames het die vergadering terdeë geniet.