Erika skryf. . .

My afskeidsgeskenk aan VLVK:

ʼn Vaandel/optrekbanier vir gebruik by VLVK-geleenthede en -kongresse.

 

Dit is op my versoek vir my ontwerp deur mev. Claudia Bence, Saamroeper van Kunste en Handvlyt en mev. Suki Ferreira,  Voorsitter van die nuwe Malmaison-tak, Sirkel Middelland.

 

Ek het 3 vereistes gestel:

  • Die banier moet modern wees,
  • Jubileumhuis en die
  • VLVK-roos moet daarop wees.

 

Die betekenis van die simbole:

Rose ter erkenning aan die VLV-Kaapland-roos.

 

Lollipop-rose: VLVK se beeld is modern, ons is pro-aktief en ons verskuif verseker ons grense!

 

Die wortels is nie sigbaar nie, maar is gesond en anker die plant stewig en dit sorg dat die blare gesond is en die rose pragtig en kleurvol is.  Net so is VLVK se fondament, ontstaan, geskiedenis (wortels) ook nie sigbaar nie, maar dit is stewig en met sorg gelê en dit voed die sterk regop stele (VLVK) wat die verbinding – die voedingsaar tussen die sytakke (die nuwe VLV-takke) is wat uit dit stam of die steel: die Moederorganisasie (VLVK) groei.

 

Die roosplant in sy volle glorie: is die Landbou en Tuinbouportefeulje, want die volle roosplant (VLVK) het sy ontstaan (die wortels), die sytakke (nuwe Takke), die blare en die blomme ( goeie werk, diens, bemagtiging) aan landbou te danke en VLVK is vandag nog steeds onlosmaaklik aan landbou verbind, want alles ín en óm ons huise is landbou.

 

Die blare: as die blare nie gesond is nie, is die plant siek. Daarom verteenwoordig die blare die Gesondheidsportefeulje.

 

Die rose (die blomme) en die pienk kleur: is die Kunste en Handvlytportefeulje.

 

Jubileumhuis: is die huis, die tuiste, die hartklop van VLVK en elke VLVK-lid se trots en dit verteenwoordig die Openbare Sakeportefeulje.

 

Die woord, VLV, en die Jubileumhuisskets het dieselfde kleur en is dus onlosmaaklik met mekaar verbind.

 

Die blou kleur van die koppelteken in die woord, VLVKaapland, is dieselfde blou as die agtergrond van die VLVK-kenteken en ook dít is onlosmaaklik met mekaar verbind.

 

Die tekstuur, die agtergrond, vroulikheid en vrouwees verteenwoordig die Leefstylportefeulje.

 

Die leuse: Vroue met visie, is die  Opvoeding en Kultuurportefeulje.

VLVK was, is in der waarheid vandag en sal ook in die toekoms: Vroue met visie wees!

 

Erika Lubbe

VLVK-president

2005 – 2014

 

Lollipop rose