Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Leefstyl en Gesondheid
Beriggewer: Dania V/D Walt
Datum: 22 Mei 2014
Op Donderdag, 22Mei 2014, het ‘n groep van 60 dames in die Gemeenskapsaal te Gouritsmond byeen gekom om mussies en handskoentjies vir KANSA George te brei.
Die dames wat die dag gereël het, Tineke Reinink, Leefstylsameroeper en Dania v/d Walt, Gesondheidsameroeper, wou oorspronklik ‘n groter geleentheid daarvan maak nadat hulle op die Internet gelees het van die wêreldwye “knit in public day” wat jaarliks gedurende Junie/Julie gehou word. Hulle het egter besluit om dit klein te hou. Verlede jaar het ons 27 dames gehad wat 250 mussies gebrei het. Die groep dames het dadelik gesê volgende jaar weer op Gourits!!
Die wêreldwye geleentheid is in 2005 deur Danielle Landes begin as ‘n manier om persone wat brei saam te kry om mekaar se geselskap te geniet en sodoende nuwe medebreiers te leer ken en terselfdertyd iets vir liefdadigheid te doen. In Amerika en baie van die ander lande is dit natuurlik nou lente of somer en vind die geleenthede dan buite in die opelug plaas, vandaar die benaming “knit in public day”.
Die dag gaan regtig daaroor om die publiek te wys dat iets soos brei of hekel wel ‘n gemeenskapsaktiwiteit kan wees.
Hier op Gouritsmond het ons alreeds twee breigroepe en die lede van dié groepe sowel as taklede van VLV Voëlvlei en besoekers vanaf Albertinia het die dag terdeë geniet. Met heerlike sop en worsbroodjies het die breinaalde vrolik geklik saam met ‘n gelag en gesels was daar sommer gou-gou nog mussies vir ons kankerpasiënte bygevoeg by die 210 hoedjies en heelwat pare handskoentjies wat ons alreeds hierdie jaar ontvang het van dames wat voor die breidag gewoeker het.
Ons sal graag die ander VLVK-takke wil aanmoedig om ook sulke dae te reël om vir liefdadigheid te brei.
Ons is so dankbaar vir die pragtige reaksie wat ons hierdie jaar gehad het en die hoedjies sal op die jaarlikse Koppie vir Kankerdag te Gouritsmond aan die verteenwoordigers van KANSA oorhandig word.
Leave A Comment