Sirkel: Tygerberg
Beriggewer: Alet Colyn
Datum: 21 Maart 2014

 

Op 20 Maart 2014 het Bellville-Wes en Brackenfell ‘n spogkonferensie hier in die Tygerberg aangebied.  Die tema “1929” was heel gepas in hierdie 85ste bestaansjaar van VLVK.

 

                                                                             

Marinda du Toit (visepres.), mev.Erika Lubbe (VLVK-pres.), Caro Ekermans (pres.), Elmarie Human (sekr.) en Lydia van Reenen (tes.) in ligte luim voor die amptelike opening

 

Ds. Johan Els van Bellville-Wes het die verrigtinge geopen en die tema ” Verskuif jou Grense” in sy boodskap gebruik.  Hand.11:19-21 handel oor gemeentes wat hulle grense verskuif het – aanvanklik is die Evangelie net aan die Jode verkondig, maar toe begin ander Christene die Boodskap versprei. Dit afgesien van Jode en Grieke wat mekaar nie kon verdra nie.

 

Filiaskool in Goodwood is ‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes. Afgesien van hulle verstandelike gestremdheid, het hulle die ongelooflike vermoë om die mooiste musiek te maak.  Hulle het die konferensiegangers vermaak met o.a. “You Light up my Life” en “Welcome to Cape Town”.

 

Ons President, mev. Caro Ekermans, het in haar verslag Num.6:24 en 25 aangehaal en sê dat die Here se beskerming en genade groot was en dat ons Sirkel in “overdrive” gegaan het, veral met die aanbieding van Kongres 2013.  Saam sal ons streef om Sirkel Tygerberg te laat floreer!

 

Die gasspreker was  Kapt. Cyril Dicks van die SAPD.  Hy vertel van die maatskaplike kwessies waarmee hy daagliks gekonfronteer word.  Hy vra dat mense hulle kinders verantwoordelikheid moet leer, en as jy jou grense wil verskuif, begin by jou bure.  Tel gemeenskappe op en maak ‘n verskil – VLV-vroue het die mag om gemeenskappe op te hef.  “No problem is too big to be conquered”.

 

Diana Kraak het haar mooi kwiltwerk aan ons gewys en vertel waar haar liefde vir dit vandaan kom, waarna Johanna Saayman ons met haar mooi musiek vermaak het.

 

In die Kunste en Handvlyt afdeling was die skrywer EKM Dido aan die woord.  Ons was meegevoer deur haar vertelling van haar grootwordjare en hoe sy haar grense verskuif het.  Sy reken “life is a recycling machine” en dat geen deel van haar “agtergeblewe” is nie. Wat ‘n merkwaardige vrou!  Saam met haar op die foto is die sameroeper, Ester de Bruyn.

 

 Lettie van Wyk se moeder se trourok 77 jaar gelede langs ‘n artikel oor die troue, wat in Die Burger van 1937 verskyn het.

 

 Elza Eksteen van Stellenberg tak het die beker vir die mees uitstaande artikel op konferensie gekry.

 

Wat ‘n heerlike en geslaagde konferensie!