Sirkel: Kalahari
Tak: Kuruman
Studierigting: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Petro Spangenberg
Datum: 20 Maart 2014

 

Op 19 Maart kry Kuruman tak besoek van Hannelie Mitchell, Omgewingstegnikus van die Sishen ysterertsmyn op Kathu. Sy het na 17 jaar in die onderwys besluit dit is genoeg en is die afgelope 7 jaar betrokke by die myn. Sy vertel die lede van al die projekte van die myn. Volgens Wet 108 van 1996 het elkeen die reg tot ‘n skoon omgewing.

 

 

 

Hannelie Mitchell, Omgewingstegnikus van Sishen

 

Van die aspekte wat sy uitlig is biodiversiteit, omgewing bewusmakingsaksies, gemeenskapsprojekte soos ‘n krisissentrum, boomplantings ens. Die Anglo databasis monitor waterverbruik, elektrisiteit en dieselgebruik. So terloops, die myn gebruik maandeliks 14 miljoen liter diesel! Verder moet daar gereeld katte en slange gevang word en rommel opgetel word.

 

Sy wys ons verder daarop dat die wêreld teen so vroeg as 2020 ‘n erge waterkrisis kan ondervind as daar nie dringend iets gedoen word nie. Oral is bewyse van die effek van aardverwarming. Die mens is die grootste sondebok. Sy sê dat daar elke 20 minute ‘n plant of ‘n dier uitsterf en dat die gemiddelde huishouding jaarliks 1 ton afval lewer. Mense moet geleer word om afval te verminder (koop hervulsakkies en gebruik die oorspronklike bottel), artikels te hergebruik (bv. eerder glasbottels as plastiek), te hersirkuleer (deur sortering van artikels), dan sit jy uiteindelik met ‘n baie kleiner volume werklike afval!

 

Marelie Keuler met haar skepping – alles om omgewingsbewustheid onder lede aan te wakker

 

Landboulid Ansie Venter doen al jare lank batik en sy het die lede gewys hoe die verskillende kleure uitgeblok word met was. Voorwaar ‘n kunsvorm wat nie deur baie mense bemeester word nie. Met baie geduld word pragtige resultate verkry!

 

Die Kurumandames het gespog met hul groen hoede wat spesiaal vir die vergadering gemaak is! Die mees oorspronklike pogings is met pryse beloon! Die handvlytkompetisie het klomp houtkruise vir Paastyd opgelewer!

 

Susan van Straten met haar groen hoed tussen Marianne Vorster en Gerda Niemand

 

Die bruin kruis van Ansie Cilliers het Paasfees die beste uitgebeeld

 

Die volgende lede het diensjaarkentekens ontvang: Tilly TerBlanche 45 jr, Elsabé Hennig 25 jr, Liza Burger 15 jr en Sarie Leyden 10 jr.