Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Kunste en Handvlyt & Leefstyl
Beriggewer: Mette Kromhout
Datum: 19 Maart 2014

 
Vir die derde agtereenvolgende jaar het die lede van Murraysburg se VLV by die Noord-Karoo Sirkelkonferensie die skild vir die meeste punte vir die kompetisie-inskrywings verower.  Die vreugde is nie net oor die wentotaal nie, maar veral omdat dit bewys dat die lede se vaardighede verbeter.  Die doel van deelname aan kompetisies is dan juis om te leer.

 

Afgesien van die Johanna van der Merwe – skild vir die hoogste puntetotaal het Murraysburg ook die skild vir Renée Swanepoel se gesondheidsportefeulje en die skild vir die Presidentstak, danksy Adri Conradie en Theresa Troskie se goeie beplanning en administrasie, verower.

 

Liza-Mari van der Merwe, een van die jong bestuurslede, se verslag van die konferensie se verloop was soos ‘n vars briesie. Murraysburg is bevoorreg dat van die jonger lede bereid is om insette te lewer en hulle eie stempel af te druk. Orania moet gelukgewens word met hulle gasvryheid en seepgladde aanbieding van die konferensie.

 

Adrie Kruger se demonstrasie en haar bedrewenheid met hout en ‘n hoeksaag het ontsag en bewondering van die dames afgedwing.  Sy maak van ou houtrame en planke die mooiste, karaktervolle rame vir foto’s, prente, spieëls en swartborde.  Sy gebruik juis herwonne hout omdat dit besondere karaktereienskappe het wat aan die rame oorgedra word en elkeen uniek maak.

 

Sy skaaf een kant van ‘n stuk hout gelyk en saag die stuk dan in plankies nadat alle spykers en vrot plekke uitgehaal is.  Sy erken dat die beskermende helmet, wat haar man Louw verwag sy tydens haar werkery moet dra, nie baie gemaklik is nie, maar het self al beleef hoe vinnig en onverwags ‘n ongeluk kan plaasvind.  Sy demonstreer hoe sy hoeke van 45 ° met die hoeksaag saag. Daarna moet die gleufies vir die glas gemaak word.  Eers daarna word die hoeke aanmekaar gelym. Sy plaas gewigte op om die lymproses te bevorder.  Indien daar enige openinge is, word dit met ‘n mengsel van fyn saagsels en gom gevul.  Op die klaar produk word terpentyn gemeng met roulynolie mildelik met ‘n klein roller aangebring.

 

Kruger bemark haar houtprodukte onder die gepaste naam Stokkiesdraai.

 

Ten slotte het alle pryswenners van die mini-skou hulle pryse ontvang en na ‘n motiverende en leersame middag gesellig by die teetafel gekuier.

 

m1

Van links na regs:  Adrie Conradie, Maretta Theron, Renée Swanepoel, Liza-Mari van der Merwe, Hannelize van Heerden, Theresa Troskie en Elana Grobler.