Sirkel: Kalahari
Tak: Kuruman
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Petro Spangenberg
Datum: 24 Februarie 2014

 

1

 

Luminariasakkies in die middel van die rugbyveld het gesorg vir ‘n mooi gesig saam met die papierlanters wat tydens ‘n seremonie losgelaat is.

 

Vir die derde agtereenvolgende jaar het die VLV van Kuruman ‘n stalletjie beman, asook ‘n span stappers gehad wat ‘n goeie bedrag kon inbetaal, asook 220 rondtes afgelê het en boonop ‘n trofee ontvang vir die ordentlikste opruiming na die tyd! By die stalletjie kon mense die heerlikste worsie binne-in ‘n vetkoekdeeggebak koop en heerlike gesonde sappe en water. Elke stalletjie moes ‘n kankertipe uitbeeld op ‘n plakaat en hierdie jaar se tema van Smartie kleure het hom geleen tot ‘n veelkleurige aand.

 

2

Marianne Vorster, Liza Burger en Joan Fotheringham by die VLV-stalletjie met kos en drinkgoed

 

Kuruman se tweede-oudste lid, tannie Susan Sargeant het op 90 jarige ouderdom deelgeneem en self ‘n paar rondtes gestap! Lelani van Straten wat ons Leefstylsaamroeper is, was hierdie jaar die voorsitter van die Relay-komitee en nog ‘n lid Ilze Honiball was koördineerder van die Survivors se ete en reëlings. ‘n Smaaklike ete is aan hulle voorgesit en geskenkies uitgedeel.

 

Ons eie drie Survivorlede is Retha-Jane Buys, Fransie Scanlen en Helen de Klerk en ons is baie trots dat dit met hulle goed gaan en dat elkeen deesdae ‘n vol lewe lei. Hulle deel graag die goeie nuus dat ‘n kankerdiagnose nie noodwendig die einde van jou lewe beteken nie.

 

3

Fransie Scanlen en Retha-Jane Buys wat albei genees is na borskanker!

 

Nog Kurumanlede se familie tel onder die Survivors en dit was ‘n wonderlike aand van eerbewys en deel in ander se lief en leed. Selfs die weer het saamgespeel en ten spyte van dreigende onweerswolke het niemand die aand natgereën nie.

 

Landswyd word Kansa se deurnagaande gehou en ons daag ander takke uit om ook spanne in te skryf en daaroor te berig!