Sirkel: Paarl
Tak: Wellington
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Juanita Loubser
Datum: 22 Februarie 2014

 
In Wellington vier ons die hele Februarie liefiemaand. Ja, ons trek rooi, pienk en wit, en alles aan wat by die maand van die liefde pas. Renetha Jurgens en haar stylvolle hulp, bring vir ons ‘n oggend vol vernuwing vir die huis.

 

1

Renetha Jurgens, Anneke Dubell, Karen Morkel by die dekortafel

 
Vanessa van Aswegen, van Linen Drawer in die Paarl, bring linne en handdoeke van gehalte en katoen na ons.Linen Drawer is in 2002 begin toe die tekstielbedryf ‘n insinking begin  beleef het. Hul vervaardig linne vir die gasvryheidsbedryf en vir eie huisgebruik. Linne kan selfs verpersoonlik word vir troues en spesiale funksies.

 

2

Francina Marais en Vanessa van Aswegen by Linen Drawer se produkte

 

Katoen is meer absorbeerbaar as poli-katoen, maak nie wolletjies nie, maar stryk moeilik. Hul katoen het ‘n minimum van 200 perkeil per vierkante duim. Dit beteken dat dit baie sterk is en 200 draadjies het per duim. Dit kan opgaan tot 600, maar is natuurlik duurder vir beter kwaliteit. Egiptiese katoen het ‘n langer draad as gewone katoen en is sterker met die weefproses. Handdoeke met massa van 550g is goeie absorbeerders. Let dat satyn omboorsels by handdoeke nie lank hou nie. Kyk dat jou randafwerkings goed en behoorlik is. Wasgoedversagmiddels laat ‘n waslagie op jou linne en handdoeke, wat absorpsie verhoed en pak saam in jou wasmasjien. As jy ‘n donsduvet het, was dit teen ten minste 40 C om dit skoon te kry. Almal is geneig om die duvetoortreksels en kussingslope te was, maar was die vullers ook. Elke 3-4 maande. Maak seker as jy vullers koop dat dit individuele pakkies en stiksels het om te verhoed dat die vulsel alles in een hoek gaan vassteek. Dit droog ook makliker.

 

Net toe ons dink dat ons vanaand lekker snoesig en statig gaan slaap, kom Anneke Dubell met haar kreatiewe brein en mooi dekoridees ons verder inlig. ‘n Droë garingboom of tak kan sommer heeljaar dien as huisversiering. Van rooi Valentynsharte, ou geroeste blikke en lanterns vir oupa se 70ste, gehekelde of papierdoilies saam met hase vir die PASE of sommer net papierservette in blomme gedraai vir Moedersdag tot Kersballe vir die Kersgety. As jy voel hierdie maand gebeur daar niks, dan tooi jy dit sommer met stukkies lint of veldblomme wat mooi droog.
Selfs ‘n wingerdkrans hoef nie net ‘n adventkrans te wees nie. Gebruik dit vir allerhande ander versierings en dekor in die huis of draai pêrels en kant daarom of sit net vars blomme in met ‘n verjaardag. Doen ook dieselfde met ‘n hout- of wingerdkruis. Moenie jou net vasstaar teen een Fees nie, maar maak elke dag, week of maand in jou huis ‘n Fees vir jouself en die mense rondom jou.

 

3
Die landskap waarvan ek hou, die Karoo