Sirkel: Middelland
Tak: Alexandria
Portefeulje: Kultuur en Opvoeding
Beriggewer: Dina Erasmus
Datum: 20/2/2014

 
Dis weer dié dag van die maand op Alexandria. Die groot ou wit Kerk in die hoofstraat is toegeparkeer. Dit is `n miernes van bedrywigheid.

 

Die huiswerk afdeling word goed ondersteun met masjienwerk, kunsborduurwerk, preservering, gebak en ander handwerk. Tak inskrywings vir die maand is blomme, naamlik- “Three of a kind”.  Masjienwerk is `n wasgoedpennetjiesak. Konferensie inskrywings word goed ondersteun!

 

1

Masjiennaaldwerk inskrywings, wasgoedpennesak

 

Stiptelik om 10:00 word ons stil en open met `n pragtige gebed. Almal se koppe is ingestel op die Konferensie te Port Alfred, Haylards Hotel, vanaf die 4de Maart 2014. Beplanning en nogmaals beplanning. Afgesien daarvan bied Rienie Pretorius, sameroepster van Kultuur en Opvoeding vir ons `n baie interessante vergadering aan. Wat skakeling met WBPV betref, steek Alexandria `n kers aan om hul gebede in te skakel by meer as 9 miljoen plattelandse vroue dwarsoor die wêreld.

 

2

Rienie Pretorius steek die kers aan

 

Ons ontvang ons tak se nuwe  geborduurde vaandel.  Ons is regtig baie trots op die groot verandering.

 

3

Sharon McDonald met nuwe Alexandria takvaandel

 

Die gasspreker is Lottie Brink van ons kontrei.  Sy was vir baie jare as jong getroude vrou aan die sy van haar man wat as diplomaat Suid Afrika in verskeie lande verteenwoordig het. Sy deel ons mee dat dit wonderlik was om die verskillende lande soos Switserland, Duitsland, Kanada, Zimbabwe en Madagaskar se klimaat, mense en kultuur te beleef.  Sy wys ons verskeie artikels uit die verskeie lande.  Dit was so interessant om die verskil in die kunsvorm te sien nl. `n houtkierie uit Zimbabwe en `n kierie uit Switserland.  Daar was onder andere die pragtigste borduurwerk op linne en babaklere. `n Handgemaakte babaslaapbaadjie en pragtige bababorslappies uit vergange se dae.

 

4

Gasspreker, Lottie Brink vertel van haar jare as diplomaatsvrou

 

Dit was `n voorreg om twee dames van die Port Alfred Blommeklub as beoordelaars te ontvang.  Hulle het die blominskrywings behartig.
Soos altyd breek teetyd aan.  Die dors moet geles word en die heerlikste verversings word geniet.