Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 11 Desember 2013

 

styl en swier

 

Elke Acqua-samekoms die afgelope jaar was ‘n hoogtepunt. Elke weersiens ‘n okkasie. Ongekompliseerde vriendskap en samesyn het harte warm gemaak en elke lid is met nuwe kennis en ervaring beklee. Ons is nou méér as wat ons was, want VLV-Acqua het ons bemagtig om meer knap, meer kundig, meer ingelig en méér vrou te wees. So aan die einde van ‘n jaar loop die gemoed oor van belewenisse, hoogtepunte, herinneringe, trotse oomblikke, deernis, liefde en empatie ontvang en betoon. Elke keer wat die Acqua-vriendinne mekaar raakleef, is ‘n kosbare kleinood om in die hart te bêre.

 

Acqua se laaste samekoms van die jaar, was letterlik en figuurlik, musiek in die ore. En daar was GROOT gegaan (huis toe gaan die Acqua’s beslis nié!). Dis mos nou darem al tradisie dat die jaar met ‘n Kersfees Kabaret afgesluit word en hierdie jaar was die meer as 100 gaste in vir ‘n gróót bederf met gróót klank. PE se grootste musiek produksiemaatskappy met internasionale optredes op hul kerfstok, Two Tone Music (www.twotonemusic.co.za), het met die Tuxedo Club gesorg dat die jaar op ‘n vrolike ‘big band way’ afgesluit word.

 

styl en swier 2

Francis & Brynley – Tuxedo Club

 

Dit was ‘n feestelike aand van goeie geselskap, ‘n smullekker 3-gang ete, kraampies met mooigoed en lekkernye, die kontemporêre, klassieke én jazz klanke van Two Tone Music en Chocolat se Belgiese sjokoladetruffels en geurige koffie om die aand af te sluit.

 

styl en swier 3

 

En nou moet die vriendinne vasbyt, want Acqua-weersiens lê vêr in die verskiet. Teen Woensdag,12 Februarie 2014, sal daar soos perde wat stal geruik het, met gesperde neusvleuels en kappende hoewe op PEGC toesak word vir die 1ste samekoms van die nuwe jaar. Dis ‘n weersiens wat nie ligtelik opgeneem moet word nie, want daar gaan baie wees om te vertel, te bepraat en te beplan. Lékker mannnnnnnnnnn…………

 

Mag hierdie Kersgety vir almal groot vrede en rustigheid bring in die wete dat ons ‘n Almagtige en Wonderbare Heerser dien. Ons gebed in hierdie seisoen van oormaat, is vir ‘n oormaat verdraagsaamheid, vergifnis, geduld en respek – nie net teenoor almal wat ons omring nie, maar ook teenoor onsself.