Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Portefeulje: Openbare Sake
Sameroeper: René Ferreira
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 11 September 2013

 
Die Metrowind Van Stadens-windplaas sal na verwagting teen Februarie 2014 begin om na raming 80 000 MWh elektrisiteit per jaar aan die Nelson Mandelabaai-metro te lewer – genoeg krag vir sowat 114 000 huishoudings. Dit sal ook verseker dat Port Elizabeth 50% van sy mikpunt vir skoon energie behaal. Dit klink indrukwekkend, maar die volle omvang van so ‘n projek – die meters, die tonne, die sekure berekenings, die tydsfaktor en die koste is duiselingwekkend.

 
Acqua-lede was bevoorreg om Lourens Kok, projekbestuurder by die Van Stadens-windplaas, en sy (tereg) trotse vrou, Bettie, as gaste te hê tydens die Septembervergadering. Lourens het aan die hand van beeldmateriaal, die omvang en werk op die 9 ha windplaas, waarop nege turbines opgerig word, volledig uiteengesit.

 

a2

Lourens en Bettie Kok.

 

Die komponente, wat in China (“made in China, fix in PE, NO PROBLEM”) vervaardig is, was in minder as ‘n week van die skepe in in die Ngqura-hawe naby Port Elizabeth afgelaai en toe per pad na die bouperseel vervoer. Die hoogste hyskraan (op wiele) in Afrika is tans in diens op die perseel. Konstruksiewerk het reeds sowat 5 maande gelede begin en die platforms (elke windturbine kry ’n betonfondasie van 300 m³)is reeds voltooi. Die turbines sal elk tot by die kop, waaraan drie lemme geheg is, 90m hoog wees. Elke lem se grootte is 56,5m.

 

Die geraasvlakke sal met behulp van verbeterde tegnologie op ’n aanvaarbare 42 desibels gehou en voortdurend gemonitor word. Geen woning is nader as 750m  aan enige woonhuis in die gebied nie en om dit te handhaaf is die ligging van een turbine selfs geskuif. Die Trust vir Bedreigde Wild (Endangered Wildlife Trust) het deur deeglike navorsing getoon dat die turbines nie in die weg van enige voël-migrasie-roetes staan nie, maar ook dit sal voortdurend gemonitor word.

 

Lourens reken dat sy werk hom nederig en op sy knieë hou, want daar is met oprigting en passing van komponente ‘n toelaatbare speling van slegs 1mm, na beide kante. Acqua-lede reken dat hy (en sy span – almal daar betrokke) bewonderenswaardige werk verrig.

 

As jy gedink het jy weet hoe dit is, moes jy by Acqua se vergadering gewees het, om werklik te weet, hoe dit is!

 

Ons was nie net ingelig nie, ons was ook deur ‘n meester, Sensei Clinton Frieslaar, globale hoof van The International South African Institute of Unarmed Combat (ISAIUC), gewys hoe om paraat te wees deur eenvoudige, praktiese en uiters effektiewe selfverdedigingstegnieke toe te pas. Ons was baie beïndruk en vreeslik jammer vir sy student, Daniel, op wie al hierdie tegnieke gedemonstreer is. Die kursusse wat sy Instituut aanbied het geen ouderdomsbeperking nie en selfs babas van so jonk as 6maande kan geleer word om hulself uit bedreigende grepe los te wikkel.

 

a1

Sensei Clinton (regs) en Daniel.

 

a3

 

Clinton het ‘n lys van prestasies, vermoëns en ondervinding so lank soos ‘n windlaaier. Hy is nie net ‘n kenner van  Atemi-Jujitsu nie, maar het buiten sy 19 jaar van ondervinding in Oosterse gevegskuns, ook ‘n BA graad in Polisiekunde. Dis nie man wat jy eers mét handskoene wil aandurf nie.

 

Die meeste van die Kwa-Kwa’s doen nou nie juis die oefenpakkie-ding nie, maar in die geselskap van vriendinne is ons na dese beslis van voorneme om ‘n “unarmed combat” kursus onder leiding van Sensei Clinton te gaan doen, want paraatheid is in vandag se samelewing ‘n noodsaaklikheid.

 

September se vergadering was nou behoorlik ‘n oopbek vergadering. Nie net omdat ons, soos gewoonlik,uitbundig gelag en gesels het nie, maar omdat ons verstom was oor alles wat ons gesien, gehoor, beleef en ervaar het. Wees ‘n lid van VLV en wees ingelig!

 

a4

En kyk net hoe fraai was ons melkskommel-blomversierings, handewerk van lid Jeanette du Toit van Flower & Gift Shop.