Sirkel: Noord-Karoo
Tak:  Britstown
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: M J vRensburg
Datum: 11 September 2013

 

b1

 

Vyf voertuie vol vrouens het die uur lange rit na Woekery Boerdery meegemaak om ‘n kykie in hierdie lieflike en besonderse VLV-lid se lewe mee te maak. Alanda en Pieter van Zyl en hul twee laerskoolseuns woon op Minnieskloof in die Britstowns-distrik. Op die werf word ons begroet deur melkbokke, hanslammers en honderde Bosveldhoenders wat pik vir hul kos. Ons hoor skaap wat blêr in lammerhokke, Mamma Vark wat roep na haar 7 week oue babatjies, 4 week oue babahondjies wat kerm vir hul mamma.

 
Almal is hartlik gegroet met ‘n heerlike koppie koffie en eetgoed, dit was baie duidelik dat Alanda se dag begin vroeg. Alanda het aan ons haar storie vertel – waar alles begin het – hoe sy as bruid met haar hoë hakke en kas vol rokkies uit haar ko-operatiewe wêreld (sy is gekwalifiseer as ‘n ouditeur) op Minnieskloof beland het. Met ‘n vleissaag as trougeskenk en ‘n groot Lister enjin wat saans aan haar moes krag verskaf, het Alanda nie op haar laat wag nie. Sy het met haar ouma se pedaalgedrewe naaldwerkmasjien haar naalwerkvernuf dadelik begin inspan en klere begin maak. Gou het sy uitgevind dat vleiswerk nie so moeilik is nie en het begin eksperimenteer met verskillende snitte. Vandag is dit haar passie – en sy tower die heerlikste gerookte worsies, salami, sosaties en biltong en droëwors op.

 

Toe sy mettertyd opmerk dat daar hanslammers is wat groot gemaak kan word, het sy Sanen melkbokke aangeskaf om die lammers melk te gee. In die begin het sy en ‘n helper met hul kinders om hulle, die bokke self gemelk. Met haar kinders wat nog baie klein was en die hanslammers wat meer geword het, het sy toe met haar spaargeld ‘n melkmasjien aangeskaf en vandag melk sy meer as 40 liter melk soggens en saans om haar sowat 80 hanslammers melk te gee. Haar melkbokkudde het met die verloop van tyd so uitgebrei dat hul in 2009 registreer by Stamboek. Intussen het die twee seuns groter geword en boer kliphard saam met ma – so het Woekerboerdery ontstaan.
Verder vertel Alanda. . . Einde 2010  onttrek ons al ons  geldjies en koop vir ons 50 Van Rooy ooie met die skaap kennersoog van pa Pieter as hulp. – Van Rooy ooie want dit moes anders wees as wat die familieboerdey waarin Pa is.  Baie opgewonde  en entoesiasties oor ons eie bokke en skaap wat nie soos die familie sin lyk nie.

 

Vandag het ons van Rooyboerdery gegroei na 157 produserende ooie in 3 jaar….wat ‘n goeie rente op ons kapitale belegging!

 

Ons groot deurbraak het egter in Maart 2011 gekom, toe Woeker Boerdery, met Pieter as eggenoot, wat nog steeds nie deel van ons boerdery kon wees nie, weens sy aandeel in die familiebesigheid, 8300 hektaar met 1 100 merino’s en 32 bees van die buurman kon huur.  Met finansiële  hulp van Pieter raak ons boerdery groter.

 

4 Maande later, Junie 2012, ontbind die familiebesigheid en die vraag is… hoe nou?
Met Woeker Boerdery wat toe al reeds orals staande was, konsolideer ons Pa se deel met Ma en seuns en dus is Woeker Boerdery vandag een groot volwaardige gesinsonderneming, waarin al 4 van ons woeker met baie vertakkings.

 

Met my kennis van boekhouding is ek verantwoordelik vir alle finansiële rekords, betalings van rekeninge, berekening van BTW asook die opstelling van die finansiële state wat dan net goedgekeur word deur die Ouditeure.  Hantering van maandelikse lone, korrekte uitbetalings daarvan en oorbetaling aan die Vergoedingskommisaris.  Dus, ek moet sorg dat die boeke klop.

 

Volledige rekord houding van beide die Boerbok stoet (350 diere) en die Saanen melkbok stoet (60 diere), vir stamboek en skou doeleindes.

Rekordhouding van wol toetse en parings by die Merino stoet (900 diere).

Registrasie van alle hondjies by Kusa en SA boerboel telersvereniging.

Bemarking van alle klein hondjies en die ontwerp en opdatum hou van ons webtuiste vir die Labradors.

Ek is ook verantwoordelik vir alle advertensies wat gedoen word in die jaarlikse boerbok joernaal en vir alle veilings wat ons hou.

Vir ons produksieveilings is ek verantwoordelik vir die opstel van die katalogus, waarin elke dier se volledige stamboom aangedui word.”

 

Na haar storie het Alanda ons aan haar wêreld buite gaan voorstel. Ons het heerlik gespeel met die hanslammers en babahondjies. Die hoenders gevoer en die varkies beloer. Deur die lammerhokke getoer en die melkmasjien gesien. Ons is ook aan die pedaalgedrewe naaldwerkmasjien – wat nou ereplekke het in die sitkamer – voorgestel. En die natuurlik die vleissaag wat in die vleiskamer troon – Alanda staan styf teen die groot masjien en streel saggies oor hom – saam het hul tweetjies al honderde kilogramme vleis verwerk.

 

b2

Na ‘n heerlike oggend se “saam boer” het ons middagete geniet en elkeen ‘n geskenkpakkie ontvang met Woeker eiers, springmielies en ietsie vir die soettand. Alanda gee alle eer aan die Here vir alles wat sy behaal het en aan die gesin wat Hy aan haar toevertrou het.