Sirkel: Overberg
Tak: Hermanus
Beriggewer: Diana Lambrechts
Datum: 07/09/2013

 

Op 7 September 2013 het Hermanus tak ‘n VLV-lenteoggend gehou wat nog lank sal onthou word.   Die tema van die oggend was “Die lewenssiklus van die vrou in sewe fases” en dis uitgebeeld met blomme deur Jeff Milne en Louis van As.

 

h1

‘n Heerlike oggend met ‘n saal vol dames

 

h2

Jeff Milne by sy kunstige ruikers
Verskillende fases strek oor verskillende tydsduur, die geboorte van die baba is die eerste fase en strek slegs oor ‘n paar minute. Die ruiker was in die vorm van ‘n ooievaar en die musiek daarby was When a child is born.
Tweede fase, die kind,  wat strek oor 12 jaar,  is uitgebeeld met ‘n kinderpartytjie wat op enige van die verjaarsdae kon wees. Die ruiker was blomme, ballonne en  roomyshorinkies gevul met pienk angeliere. Die musiek was Geel Teddiebeer.

 

h3

Ruiker van die kleuter/kind fase, met ballonne en roomyshorings

 

Fase drie was die tiener wat fladder van die een gewoonte na die ander en die belangrikste instrument in haar lewe is haar foon. Twee ruikers soos skoenlappers verbind met ‘n telefoondraad en die musiek Foon teen die oorhet haar uitgebeeld.
Mondigwording wat weer strek oor slegs een dag was fase vier. Dit was ‘n vrolike ruiker en die musiek Girl you will be a woman soon daarmee saam.
Fase vyf was weer net een dag, die troudag. Die dag waarop sy “tradisioneel” toestemming kry om moeder te word. Hier was vier bruide elk met ‘n handruiker en‘n groot wit ruiker op die verhoog, terwyl die troumars gespeel het, het die bruide tussen die gaste beweeg.
Met fase ses was daar ‘n droë houtstomp op die verhoog en gaste was bekommerd oor hoekom die ma dan nou so droog moet lyk, maar toe die blomme bykom was dit een van die mooiste ruikers. Drie bloedrooi blomme is bymekaar geplaas in die ruiker en dit het uitgebeeld die moeder se liefde eerstens vir haar gesin, familie en vriende; die tweede blom was liefde vir haarself en die derde blom was haar liefde vir haar Hemelse Vader. Die gepaardgaande musiek was You raise me up.
Laaste fase nommer sewe was die ouma, die anker van die hele familie. Sy is uitgebeeld deur ‘n anker met ‘n vasgesweisde ketting, wat die hele familie bymekaar bind en hou. Die ruiker was oorheersend goud met bietjie silwer en die musiek was dan ook Silver threads amongst the gold.

 

Die laaste twee fases was werklik aangrypend en hier en daar is ‘n traantjie gepik. Jeff Milne het dwarsdeur die hele proses die gehoor met bypassende staaltjies vermaak. Die gaste is getrakteer op vrugtekelkie, broodjie, sap en drie verskillende soorte quiche met slaai en as nagereg was dit koffie en koek. Dit was werklik ‘n besonderse oggend.
h4
Gaste in ‘n vrolike luim. LNR Mev van Wyk, Mev Hauman, Mev Schneider en Mev Rossouw