Sirkel: Sirkel Paarl
Tak: Slot-van-die-Paarl
Portefeulje: Leefstyl (Naaldwerk afdeling)
Beriggewer: Annalise Loubser
Datum: 3 September 2013

 
Die lente, soos ons nou al lankal weet, begin eers op 1 Oktober in die Kaap, maar vanjaar het dit sy hart oopgemaak vir Slot se lede en ‘n pragtige dag het ons begroet. Dit het sommer bygedra dat amper die hele tak teenwoordig was, asook die 2 mees senior lede wat nie meer so gereeld kom nie – ‘n fees!

 
Die gasspreker het ons kom inspireer met haar vertelling oor wat hulle borduurgroepie alles vermag. Sowat van talent in een mens het ons lanklaas gesien en sy wil dit net met almal deel! Die belangstelling is aan moedersknie geprikkel en ook van haar Duitse ouma ontvang. Sy het egter by ander geleer om dit te dóén, want die Duitsers hou hulle penne anders vas.

 
Die groep pak verskillende projekte aan bv. Valenstynsdag-, Paasfees- en Kersfeesprojekte. Dit motiveer hulle om hulle kreatiwiteit doelgerig in te span.

 
Wie het nou geweet dat Australiese kruissteek ‘chicken scratch’ genoem word en dat die oorsprong daarvan in die depressiejare was? Daar was toe nie so ‘n groot verskeidenheid lappe nie. Die pragtigste kruissteke in verskillende patrone en kleure is op ‘eenvoudige’ Gingham (geruite) lap gedoen.

 
Annerine, ons tak se eie borduurmeester, het ‘n kombersie van 2 lae ‘fleece’ lap gedemonstreer. Plaas die twee ewegroot stukke op mekaar, maak inknipsels van 5 cm so 3 cm uitmekaar reg rondom. Knip dan ‘n  ‘knoopsgatjie’ by die basis van die inknipsels in die middel en trek dan die onderste knipsel deur die knoopsgat en dan weer die ander een deur die knoopsgat. Dit lyk baie mooi, want dit is ‘n anderste tipe fraiing en rafel ook nie uit wanneer dit gewas word nie.

 
Die Opvoeding en Kultuur portefeulje het ook aandag gekry met ‘bring Die Burger na die VLV’ deur interessante artikels te lees.

 
Elke lid is opgevoed en vol entoesiasme daar weg om ‘n verskil te gaan maak in hulle huise en in hulle omgewing. Die VLV se doelstelling is mos immers om deur volwasse opvoeding vroue in staat te stel om ‘n gesonde huislike en volkslewe op te bou!

 

p1

Gasspreker Erika Wynjeterp, Voorsitter Bokka Wagenaar, Gasvrou Annerine de Waal

 

p2

Op 3 na die hele Slot-van-die-Paarl-tak

 

p3
Heugdelike gebeurtenis: Mees senior twee lede Christine Nolte en Willene Louw by Voorsitter, Bokka Wagenaar