Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 14 Augustus 2013

 

 

vier vrouwees

 

Acqua tak se Augustus vergadering is nie aan ‘n spesifieke portefeulje gekoppel nie, omdat dit die maand of vergadering is waartydens bestuursverkiesing plaasvind, indien nodig. Acqua se huidige bestuur is nog stewig in hulle sitplekke en daar was nie ‘n stembriefie in sig nie. Synde vrouemaand het die Kwa-Kwa’s hulself kon oorgee aan vrolike samesyn en is vrouwees en vriendskap met die taal van blomme en sensuele beweging van die lyf gevier.
Teen die agtergrond van ‘n lekker groot kaggelvuur, sagte beligting en die meesleurende klanke van Oosterse musiek was daar ge-shimmy, ge-shiver en ge-vibrate. Rags shargi, oftewel belly dancing, is beslis ‘n manier om jou vrouwees te omarm.

 

Dames in pragtige bedlahs (Arabies vir ‘pak’), oftewel belly dance kostuums, het gewys dat ‘n plankdun lyfie of modelvoorkoms geen voorvereiste is om sulke sensuele intramuskulêre bewegings uit te voer nie. Dit is nie net jou maag wat beweeg en geoefen word nie, maar ‘n dans wat jou hele lyf inspan.

 

vier vrouwees 2

 

Die bedlah bestaan gewoonlik uit ’n bra, ’n gordel (hip scarf) met klokkies of krale, en ’n romp. Enige romp en bostuk sal nog doen, maar ‘n ‘hip scarf’ met klokkies is ‘n integrale deel van veral die heupe se bewegings en onontbeerlik wanneer daar ge-shimmy word! ‘n Deurskynende serp of ’veil’, waarin jy jouself kan toevou en wat stadig en verleidelik afgehaal en ingespan word terwyl die lyfbewegings uitgevoer word, dra beslis by tot die sensualiteit van hierdie oeroue Oosterse dansvorm.

 

Die bewegings is glad nie ingewikkeld nie en eintlik baie maklik om te bemeester. Die meeste bewegings gaan oor die beklemtoning van ’n sekere liggaamsdeel, soos jou heupe, bors, maag en skouers. Dit word as een van die maklikste dansvorms vir beginners beskou.

 

Na ete was die hande geoefen, toe elkeen van die 86 vriendinne haar eie Tussie Mussie – ‘n amper argaïese term uit die vroeg 1400’s wat gebruik is om klein ronde ruikers van blomme en kruie met simboliese betekenis te beskryf– gemaak het. In die Victoriaanse tyd is jong dames sosiaal beoordeel op hul vaardigheid in die maak van sulke klein geurige en betekenisvolle handruikers. Die simboliek van die plantkomponente is ‘n integrale deel van die tradisie van Tussie Mussies.

 

Elkeen het ‘n handvol geurige kruie en loof uit die tuin saamgebring. Daar was rose, laventelblomme, kruisement, roosmaryn en magrietjies, papierkegels en vrolike vlindertjies. Simboliek was miskien nie die belangrikste komponent van die Kwa-Kwa Tussie Mussies nie, maar die lekkerte om ‘n geurige bossie blomme te kon huis toe neem, om jou te herinner aan vriendskap en ‘n aand van uitbundige geselskap, was beslis betekenisvol.

 

vier vrouwees 3

René en Linda, erg beïndruk met hulle Tussie Mussies.

 

vier vrouwees 4

Bras & Beads – Acqua lede se kreatiwiteit en handvaardigheid is genoeg om enige belly dancer te inspireer!