Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 27 Julie 2013

Weet julle hoe ruik dankbaarheid? . . . pure jaffel x 1470.
Weet julle hoe klink genoegdoening? . . . soos ‘n klomp vriendinne wat lag en werk en gesels. . .

Weet julle hoe lyk sukses? . . . R15 040.00. . . DIS hoe sukses lyk!!!
Mount Croix, Port Elizabeth of Tabgha? Brood en maalvleis of brood en vis? Soos wat die brood en die maalvleis vermeerder het, sou ‘n mens kon reken daar’s ‘n honger leërskare om te voed. Daar is gesmeer en geskep, gebak en gepak, maar steeds was daar aan die brood en maalvleis (40kg wat die vorige dag voorberei is) geen einde nie. Gewillige Acqua-hande, ruim donasies, 1350 bestellings én 10 jaffels elk vir elkeen van die 12 Oues, reeds sedert 2007 onder die Acqua-vlerk, het die Kwa-Kwa’s die jaarlikse jaffeldag met lekkerkry, klaar gekry!

Die gedagte was om verlede jaar se R11 000 te verbeter, maar met ‘n hele R4 040.00? WOW!!!! Kyk hoe word ons geseën!

 

Daar was met groot entoesiasme hand uit die mou en/of hand in die sak gesteek vir hierdie grootse poging ten bate van die bejaardes wat maandeliks met kruideniersware, begrafnispolisse en mediese behoeftes deur Acqua ondersteun word.

 

Soos daar gewerk is, is daar gesels en soos ons gesels het, het ons gelag – die lewe met al sy vrolikheid en olikheid is tot in die fynste detail ontleed. ‘n Woord van dank gaan aan ons Food & Beverage Manager, Claudette, wat Happy Hour met groot sukses hanteer het,  die Distribution Managers, wat al jaffels tel in hulle slaap!! en elke lid van Middle Management, wat nooit fokus verloor het nie. Welgedaan, Acqua-vriendinne, welgedaan!

 

2000 jaffels volgende jaar? Ons sien kans!

 

jafels