Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 5 Desember 2012

 

Sienderoë het die Kersseisoen ons bekruip. Nog ‘n jaar is amper verby en weer wonder ons waar die tyd heen is. Tyd voel nie altyd net soos ‘n oogwink nie, maar soms tog ook soos ‘n ewigheid.

 

Dit was ‘n jaar van vreugdevolle hoogtes en smartlike dieptes – nie net vir ons mooie land en sy mense nie, maar ook vir onsself en die mense wat ons ken. In baie opsigte was die jaar uitdagend en met tye emosioneel uitputtend. Vir sommiges was daar groot hartseer. Soms was die lewe sommer net moeilik, of bloot net teleurstellend.  Maar as ons bestekopname neem dan sien ons dat die lysie nie net negatiewe inskrywings het nie. Genadiglik het die lysie genoegsaam regmerkies om die kruisies in perspektief te hou.

 

Daar was baie mooi oomblikke, ligte oomblikke, lag-oomblikke, onthou-oomblikke. . . baie oomblikke met ewigheidswaarde.

 

Steeds is die Acqua vriendekring ‘n holte vir die voet. ‘n Tuiste van geesgenote. Vroue met gedeelde belangstellings, harte so groot soos pakhuise en die kollektiewe vermoë om empatie, deernis en naasteliefde tot voorreg te verhef. Acqua is die versinnebeelding van vriendskap en vroulike krag.

 

Nog ‘n spesiale VLV-jaar is afgesluit met die gebruiklike Acqua Kersfees Kabaret. Dit was ‘n aand van kuier, kos en musiek.

 

marlene

Marié, Ilke, Ina en Marlene

 

kersfees kabaret

Alfred Felkers en Marinus van Rooyen het die ore behoorlik laat feesvier. ‘n Grote bederf om te kon luister na die twee talentvolle kunstenaars.

 

Daar is ook ‘n paar trofeë uitgedeel! A ja a, Acqua deel ook trofeë uit – nou nie vir bywoning, gebak, meeste punte  en dergelike dinge nie, maar daar was vanjaar onder andere ‘n Nuusmaker van die Jaar, ‘n Ywerige Fondsinsamelaar en wag daarvoor. . . . . . . selfs ‘n Hekeltrofee.

 

kersfees kabaret 3

Magriet Schmidt het tot op hede meer as 1000 breiblokkies vasgehekel vir Middelland se kombersprojek.

 

En nou is dit hef aan tot ons mekaar weer sien op 13 Februarie 2013. Teen daai tyd is ons al so uitgehonger vir Acqua samesyn, dat ons gaan bewe van opgewondenheid. Elke 2de Woensdagaand van die daaropvolgende maande sal ook in die dagboeke aangeteken word as ‘n afspraak met die ander Acqua Evas vir ‘n bietjie “me time”, gewaarborg om die estrogeenvlakke te kalibreer!