Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 22 April 2010

 

Misdaad, geweld, verkragting en sinnelose bloedvergieting is realiteite van ons alledaagse bestaan. Dit is lank nie meer net statistieke wat met ander mense gebeur nie. As vroue is ons sagte teikens en maar alte dikwels die prooi van geweldenaars en misdadigers.Ten spyte van al die gru-verhale in die media en selfs in ons onmiddellike familie of vriendekringe, is ons nie naastenby paraat genoeg vir ‘n gebeurlikheid waar ons persone, geliefdes of eiendom bedreig word nie.

 

Acqua se dames het besluit om weerbaar te raak, omdat weerloosheid beslis nié ‘n goeie alternatief is nie! Insp. Darelle van der Merwe, van die SAP, het kundige raad en praktiese wenke vir veiligheid met die dames gedeel tydens die Openbare Sake vergadering.

 

Vroue is fisies swakker as mans en het ‘n groter geneigdheid tot irrasionele en paniekbevange optrede in ‘n noodsituasie. Ons kan onsself nie so goed soos ons manlike eweknieë verdedig nie en dit maak ons maklike teikens vir misdadigers, wat in elk geval meestal mans is. Ons vrouens roem graag op ‘n sesde sintuig en dis juis die 6de sintuig wat ons kan help om voorkomend op te tree. As jy ongemaklik voel in ‘n plek of met ‘n persoon, moet jy jou instink vertrou en padgee.

 

Wees oplettend en bedag op abnormaliteite in jou omgewing. Ken die klanke en geluide van jou huis en jou buurt. Kontak jou gewapende reaksie firma indien jy verdagte persone/geluide in jou straat of tuin opmerk. Wees bewus van werkers, bouers en selfs tuiniers wat in jou area werk. Let op enige verdagte voertuie/persone in jou straat of oprit.

 

‘n Digte tuin of hoë struike rondom jou huis en veral by jou oprit, dien as maklike wegkruipplek vir misdadigers. Bespied jou omgewing voordat jy jou hek oopmaak of uit jou voertuig klim. Indien jy in die aand terugkeer, maak seker dat daar altyd ‘n buitelig aan is. Is jou diere op dieselfde plek waar hulle jou altyd groet?  Hou altyd jou paniekknoppie byderhand.

 

Moenie jou voordeur of veiligheidshek oopmaak voordat die persoon aan die ander kant hom/haar tot jou bevrediging geïdentifiseer het nie. As jy nie tevrede is met sy/haar identifikasie nie, moet jy onder geen omstandighede die deur oopmaak nie, maar eerder jou man, die bure of SAP bel. Moenie ‘n onbekende persoon in diens neem, sonder dat jy ‘n afskrif van die persoon se identiteitsdokument gemaak het nie.

 

Wees besonder oplettend wanneer jy in en uit jou voertuig klim voor en veral na jy inkopies gedoen het. Hou jou motorsleutels gereed voordat jy uit ‘n gebou of winkelsentrum na jou motor toe gaan. Moenie langs jou voertuig gaan staan om jou sleutels doer onder in jou handsak te probeer uitkrap nie – jy maak van jouself ‘n maklike teiken. Sorg altyd dat jou motordeure gesluit is, die oomblik wat jy in jou voertuig klim.

 

Indien daar ‘n indringer in jou huis is, moet jy die situasie blitsvinnig takseer. Kan/gaan jy weghardloop; sal jy die paniekknoppie kan druk, voordat jy oorrompel word; het jy ‘n veilige kamer/vertrek in jou huis, waar jy kan gaan skuil en toegang het tot ‘n telefoon/paniekknoppie? Onthou, jy ken jou eiendom baie beter as die indringer. Indien jy nie kan wegkom nie, moet jy kalm wees en jou samewerking gee om die persoon/e so gou moontlik uit jou huis te kry. Moenie hom/hulle konfronteer of uitdaag nie.

 

Ons moet onsself op elke moontlike manier probeer beveilig en ten alle tye paraat wees. Ook daar waar ons op ons veiligste voel. Ten spyte van al die voorsorgmaatreëls en veiligheidstelsels tot ons beskikking, kan ons nog steeds die slagoffers van geweld of misdaad word. Ons kan nie kies wat met ons gebeur nie, maar ons kan wel kies hoe ons reageer op dit wat met ons gebeur. Dit is nooit jou keuse om ‘n slagoffer te word nie, maar dit is wel jou besluit om ‘n slagoffer te bly en toe te laat dat dit wat met jou gebeur het, jou lewe verwoes.

 

wees weerbaar 2010

Mooi rooi tafeldoeke vir ‘n ernstige onderwerp! Ten spyte van die erns van die onderwerp (en ‘n ieder en ‘n elk wat sleutel in die hand die hotel verlaat het), was dit steeds ‘n jolige kuier!