SPEECH BY STEPHANIE REDELINGHUYS

FOR THE CWAA CONGRESS 2009

 

“BIPOLAR DISORDER” – BIPOLêRE GEMOEDSTEURING

 Ek is gevra om vir u te vertel van Bipolêre Depressie.  Dit was dan ook deels die rede waarom ek die biografie van my dogter Michèle,  “A Life Interrupted – the story of Misjke,” geskryf het, naamlik om vir mense te verduidelik wat Bipolêre gemoedsteuring is.

 

Tot in die tagtiger jare was die term in ons land onbekend.  Mense het enersyds gepraat van so-en-so is manies, eksentriek, of met die maan gepla, en andersyds van depressief, swaarmoedig, wanhopig.  Soms het diegene met skok – behandelings in hospitale tydelike verligting gekry, maar is meesal net verban na die ‘Groendakkies’, die destydse Valkenburg, of dergelike inrigtings en liefs van vergeet, ‘n vae “skeleton in the family closet”

 Maar goddank,  oorsee is onverpoosd navorsing gedoen oor emosionele steurings en is bevind dat die maniese- en depressiewe neigings eintlik twee uiterstes of pole van dieselfde brein-disfunksie is, en vandaar die benaming:  BIPOLAR. BI – wat beteken 2 soos in bicycle, bifocal, en POLAR soos in North Pole en South Pole – bo normale gedrag is manie, onder die normale is depressie, d.w.s manies- depressiewe, of bipolêre siekte, ‘n breinsel disfunksie.

 

Daar is ongeveer 15 biljoen breinselle wat inligting versend d.m.v elektriese en chemiese gekodeerde seine.  Elke gedagte en aktiwiteit in jou brein is verbind en herlei boodskappe blitssnel onder mekaar. Die onvoldoende voorsiening van sekere chemikalieë soos serotonien, dopamien en noradrenalien affekteer die neurotransmissie vanaf een breinsel na die volgende.  Hierdie transmissie of boodskappe beïnvloed gedagtes, emosies, denke en optrede m.a.w. die gemoed, en indien hierdie funksie ontwrig word, ontstaan ‘n emosionele of gemoedsteuring wat ‘n maniese of depressiewe episode veroorsaak.

 

Hierdie Bipolêre gemoedsteuring lê dikwels as ‘n sluimerende oorgeërfde gene in die brein wat deur een of ander gebeurtenis of middel ontketen word.  In Engels staan dit bekend as ‘n “trigger” of “kindling” – d.i. die aanblaas van ‘n smeulende vuur m.a.w. die onderliggende moontlikheid van ‘n gebrekkige neurotransmissie in die brein is reeds teenwoordig a.g.v. die genetiese invloed en word dan ontketen deur omstandighede, soos die dood of skeiding van ‘n geliefde, siekte, werksverlies, spanning, ‘n ongeluk of dergelike traumatiese ondervindings.  Dit kan ook deur drank of dwelms ge- “trigger” word, of deur die geboorte van ‘n baba, of skildklier probleme.  ‘n Ontstellende, soms skrikwekkende toestand ontstaan wat die lyer nie sonder hulp kan demp nie.  Hy/sy promoveer oor die fyn grens van “normale” na “abnormale” gedrag wat soms net na intense behandeling in ‘n psigiatriese hospitaal getem kan word.

 

Bipolêre gemoedsteuring begin gewoonlik in adolessensie of vroeë volwassenheid, maar kan op enige ouderdom toeslaan.  Dit verskil egter van persoon tot persoon en daarom is individuele diagnose en medikasie nodig. Korrekte medikasie sowel as terapie is absoluut dringend noodsaaklik om die funksionering van die breinselle te reguleer en die lewe van lyers aan hierdie verskriklike siekte draaglik te maak.  Presies net soos ‘n diabeet afhanklik is van insulien na gelang van die bloedsuiker gemeet.

 

Maniese depressie word dikwels nie as “siekte” erken nie, en mense kan soms nodeloos vir jare, selfs dekades ly, sonder hulp.  Net soos kanker, hoë bloeddruk en diabetes fisiese siektes is wat lewenslank met medikasie in toom gehou moet word, maar feitlik nooit geneesbaar is nie, so is ‘n gemoedsiekte ‘n psigiese siekte in die belangrikste en mees kwesbare orgaan in die liggaam, naamlik die brein, meestal ongeneeslik, maar kan baie effektief met die regte medikasie en behandeling in toom gehou word en die pasiënt kan met hulp en ondersteuning ‘n positiewe en produktiewe lewe ly, al is dit soms onstuimig! Om Bipolêr te wees is nie net slegte nuus nie.  Daar is ook positiewe eienskappe.  Omdat hulle emosionele mense is, is hulle simpatiek, liefdevol, vrygewig, begaafd, deur die gode geseën met baie talente.  Hulle is kunstenaars, komponiste, skrywers, digters, musici, verhoogpersoonlikhede, groot staatsmanne ens.  Selfs Hipokrates en Aristoteles het reeds eeue gelede geskryf dat depressie en manie die meer begaafde mense affekteer, dat hulle inderwaarheid presteerders is op baie gebiede, veral die kreatiewe.

 

Daar is 1947 bevind dat inwoners van sekere wêrelddele nooit aan hierdie gemoedswisseling of skommeling ly nie, en so is ontdek dat dit ‘n natuurlike bestanddeel in die gebiede se water- en grond samestelling is wat die brein ten goede beïnvloed naamlik LITHIUM – ‘n wondermiddel wat vir meeste pasiënte help wat aan hierdie wanbalans ly, maar ongelukkig nie vir almal nie.  Soms wel in samewerking met ander medikasie, maar dis soos die Engelsman sê, ‘n “trial and error” situasie.  Daarom is dit so noodsaaklik dat die pasiënt gereeld die psigiater besoek en haar/sy bloed gemonitor word om vas te stel of die medikasie doeltreffend is, of dalk te sterk of te lig.  Medikasie restoureer balans, maar oor-medikasie kan lei tot ‘n koma.

 

Die medikasie het newe-effekte wat mettertyd verminder en verdwyn, maar soveel pasiënte raak mismoedig en opstandig omdat ‘n reaksie op medikasie soms maande neem, en hul hou op of weier selfs om te medikeer en versink in oneindige ellende wat dikwels lei tot selfmoord, veral onder jongmense wie se naasbestaandes nie die siekte verstaan en psigiatriese hulp betyds bekom nie.  Daar is ook ontkenning omdat daar steeds ‘n stigma aan ‘n geestes- of psigiese siekte kleef in teenstelling met simpatie teenoor ‘n fisiese siekte of liggaamlike gebrek.  Vroeë diagnose is imperatief vir die mees doeltreffende reaksie, en dis noodsaaklik om in te gaan op die familie geskiedenis van die pasiënt om vas te stel of daar ‘n genetiese element bestaan.

 

Wat is die simptome van Bipolêre siekte? 

Gedurende ‘n maniese episode kan die persoon abnormaal geïrriteerd of opgewonde en ekstaties wees.  Gedagtes is vlietend, spraak vinnig, soms onophoudelik, onsamehangend.  Energie en grootheidswaan borrel, hulle is entoesiasties, sosiaal, ooraktief, het min of geen slaap nodig vir dae aaneen nie en is salig onbewus van hul optrede en uitspattighede.  Hulle is baie produktief tydens hierdie fase, is onvoorspelbaar, onverskrokke, waag groot, bestuur roekeloos, is vurig, het geen inhibisies nie, spandeer onoordeelkundig en maak soms katastrofiese sake besluite.  Die persoon ondervind intense sensoriese gewaarwordinge: verskerpte smaak, gehoor, reuk en sig, wat lei tot groter kreatiwiteit.

 

Gedurende die depressiewe episode wat vir 2 weke of langer kan aanhou, is dit moeilik of selfs onmoontlik om te funksioneer. Hulle is neerslagtig, onbelangstellend, kan nie konsentreer of besluite neem nie, voel nutteloos, uitgebrand en liefdeloos, het ‘n lae selfdunk en libido, is lusteloos, emosioneel afgestomp, moedeloos en oorweeg selfmoord. Hierdie gemoedskommeling van hoog na laag, van vrolik, uitbundig en blymoedig na neerslagtig en wanhopig is onvoorspelbaar, onwillekeurig en dikwels siklies, of seisoenaal  tensy dit deur een of ander krisis of verlies ontketen word, of deur alkohol of dwelmmisbruik, indien die genetiese neiging daartoe reeds teenwoordig is.

 

Wat behels hierdie genetiese neiging?

Sommige ouers dra kanker oor aan hul kinders deur hul gene. Soms bogemiddelde musikale, skryf of sport vaardighede, ‘n goeie sin vir besigheid, leierskap of boerdery eienskappe, soms hul gelaatstrekke of ‘n moesie of mooi hande of krom tone en soms ‘n brein wat ‘n wanbalans toon, ‘n gebrekkige neurotransmissie in die breinselle.

 

Onbehandelde maniese depressie gaan gepaard met ontsettende persoonlike lyding en smart, aftakeling na gees en liggaam, gebroke verhoudings, ontspoorde toekomsplanne, enorme finansiële implikasies, en moontlike dood deur waaghalsigheid of selfmoord. Lyers voel ontbloot, bedreig, beangs, vreesbevange, weerloos, alleen – o so alleen, van God en mens verlate. Soms erken hulle hierdie wanbalans van emosies en kan met medikasie en terapie gehelp word om meer rasioneel en matig te wees en die chemiese wanbalans herstel, maar dikwels ontken lyers en hul ondersteuners dat hulle eintlik ‘n breinsiekte het, wat hul dan self probeer reg dokter met drank of dwelms soos dagga, of pille of tik, wat veral onder jong mense baie populêr geword het.  Hierdie self-medikasie help tydelik maar as dit uitgewerk is, is die siekte erger, want dit tas die breinselle aan, wat klaar nie reg funksioneer nie.  Daar is bitter min lyers aan bipolêre depressie wat nie op een of ander stadium uit desperaatheid hul toevlug neem tot drank of dwelms om die ekstreme en eensaamheid in hul lewens te hanteer nie.

 

Bipolêre gemoedsteurnis het nie net ‘n geweldige uitwerking op die persoon wat daaraan ly nie, maar ook op diegene wat hul moet bystaan en onderskraag.  Familielede word dikwels tot die uiterste beproef deur ‘n kind, ouer, broer of suster, en huweliksmaats wat ly aan Bipolêre gemoedsteurnis.  Daar is ook ‘n pynlike gevoel van verlies omdat die siek persoon so ‘anders’ was voor hy of sy siek geword het.  Daar is verdriet oor verlore drome en vooruitsigte, skaamte oor die vreemde optrede van die pasiënt en die stigma van ‘n psigiese siekte in die familie.  Gedurige angstigheid dat die bipolêre persoon sal “uithaak” in die  publiek, en ook vrees dat die siekte op kinders of kleinkinders van die sieke kan oorgedra word is teenwoordig.  Vriende en familie vermy die siekes omdat hul nie die afwyking verstaan nie, en omdat hulle nie weet hoe om die situasie wat mag ontstaan te hanteer nie, wat tot groter vervreemding en afsondering lei.

 

Ondersteuners van bipolêre pasiënte moet nie onrealistiese verwagtinge koester t.o.v. van die lyer of die medici nie.  Wanneer familielede vermoed dat iemand simptome toon van die siekte en mediese hulp kry, verwag hulle dikwels ‘n definitiewe diagnose en ‘n permanente genesing deur medikasie.  Dit is egter gewoonlik deur verskeie eksperimentele medikasie, vele teleurstellings en langdurige hospitaal verblyf of inrigting verblyf en tuis dat daar enige verbetering intree.  In albei manies en depressiewe fases is hul gedrag buite hul beheer.  Hulle is nie berekenbaar of verantwoordelik vir hul optrede nie, net so min as sou hulle lewer of longe of niere wanfunksioneer. 

 

As te hoë eise aan die pasiënt gestel word, lei dit tot frustrasie en spanning en ‘n hernieude terugval in manie of depressie en ‘n gevoel van hulpeloosheid by hul naasbestaandes.  Dit is belangrik vir ‘n ouer om te besef dat dit die breinsiekte is wat die emosies en denke van hul kind versteur het en nie hul opvoeding wat gefaal het nie.  Dit is nie hulle skuld nie, net so min as sou hulle kind blind of doof of gebreklik gebore gewees het. Dit is aan te beveel dat ondersteuners van maniese depressiewe lyers “Support Groups” moet bywoon.  Inligting hieromtrent kan by my verkry word.

 

Ek lees die volgende in “Streams in the Desert”

“For unless a grain of wheat be buried in the ground, dead to the world, it is never more than a grain of wheat.  But if it is buried, it sprouts and gives life sustaining food to many”.

    

Ek weet nou dat my kind gesterf het om ander te help om te lewe en hulle siekte, wat ook haar siekte was, te verstaan.  Deur middel van haar ongelooflike kunstalent, het sy deur die jare haar worsteling in beelde op doek, papier en porselein vasgelê om vir ander te wys hoe maniese depressie voel.  Ek self het dit nie verstaan voordat ek haar werk kronologies te boek gestel het nie, daarom beywer ek my nou om die kennis wat ek deur baie hartseer opgedoen het, met ander te deel.

Skrywer:  Stephanie Redelinghuys  021 8722762, faks 021 8720444