Pragtige orgidieë word op Eikenhoff gekweek

 

Pragtige orgidieë word op Eikenhoff gekweek

Posted by VLV in Hermanus Tak, News 07 Mar 2019

Sirkel : Overberg

Tak: Hermanus

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Diana Lambrechts

Datum:  6 Maart 2019

 

Pierre Martheze was die gasspreker by VLV Hermanus se maand vergadering. Hy boer met orgideë op sy  plaas Eikenhoff buite Stanford.

 

Daar is na bewering meer as 60,000 orgidee spesies waarvan 120 plaaslik in die Fernkloof Natuurreservaat voorkom.Daar word nog gereeld nuwe spesies ontdek, in Fernkloof is 2018 ook nog ‘n nuwe spesie ontdek. Hermanus het dan ook een van die sterkste orgidee verenigings in Suid Afrika.

 

Op Eikenhoff word die meeste van die plante onder skadunet gehou, hoofsaaklik om die plante skoon te hou. Plante kan egter onder bome of selfs in bome gehou word met tot tussen 60% en 80% skaduwee, maar nooit in direkte sonlig nie.

 

Die plante vereis nie baie werk nie, inteendeel hoe minder daar met hulle gewerk word hoe beter. Plante kan soos vetplante hanteer word, en hul blare is ook hard en dik. Die grond moet nie te nat wees nie en moet goed dreineer. Om te toets of die plant droog is kan jy aan die blare voel en indien die blare dunnerig voel moet dit water kry. Wanneer die plant klaar geblom het is dit soms goed om die plant vir ‘n paar maande sonder water te laat en dan weer te begin water gee. Die skok laat die plant in die meeste gevalle weer blom. Die blomme moet so na as moontlik aan die bol gesny word,dit is om te verhoed dat die blomstingel minderwaardige blomme maak.

 

Die pragtige blomme wat ons so dikwels persent kry, is waarskynlik met hormone behandel om sodoende ‘n groot blom uit ‘n klein plant te kry. As jy die plantjie wil hou, kan jy verwag om tot drie jaar te wag vir die volgende blom, maar van daar af, behoort jy jaarliks jou blom te kry. Die rede daarvoor is dat die hormone moet uitwerk, en die plant sy natuurlike siklus moet volg.

 

Plante kan temperature van 5°C tot 40°C grade hanteer en die lae temperature is veral belangrik  in die blomtyd. Plante blom vanaf April tot November en indien jy plante in die huis plaas, pas dit tussen 5 en 7 dae aan. Die plante moet redelik lig kry en genoeg lugvloei is belangrik.

 

Pierre wys die vergadering hoe om ‘n plant te breek en uit te plant. Uitplant tyd is in die begin van die jaar. Die pot kan baie vol wees voor uitplant nodig is, hoe minder spasie in die pot hoe beter blom die plant.  Die plant word uit die pot verwyder en ongeveer twee derdes van die wortels word afgesny en weggegooi. Die plant het ‘n natuurlike breek  en elke plant moet een reguit en twee sytakke hê. Gebruik “orchid potting mix” vir die uitplant in die kleiner potte. Grond mag nie te veel sout hê nie, die Ph moet neutraal wees.

 

Orgidee is baie vatbaar vir viruse, wees dus baie versigtig en was die skêr voordat jy weer ‘n ander plant sny. Wenk vir siektes is gewone Doom Blue Death wat by die supermarkte beskikbaar is. Meng ‘n teelepel daarvan in ‘n liter water, en spuit jou plante daarmee.

 

Eikenhoff Kwekery hou hulle gene-poel gesond deur jaarliks nuwe plante van ander lande in te voer. Bestuiwing vind plaas deur ‘n spesifieke insek wat reageer op die feromoon wat die orgidee afgee. Kunsmatige bestuiwing is glad nie moontlik nie.

 

‘n Heerlike vergadering, en nege gelukkige lede is huis toe met ‘n besonderse orgidee, die uitvloeisel van die demonstrasie.

 

 Pierre  Martheze

 

 

 

 

 

 

Orgidee

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Pierre wys hoe om die wortels van ou plante af te sny

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Nog Orgideë

 

Post a comment