Gekonfronteer met ‘n kritiese mediese toestand

 

Gekonfronteer met ‘n kritiese mediese toestand

Posted by VLV in Acqua Tak, News 11 May 2017

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Studierigting: Gesondheid

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 10 Mei 2017

 

Acqua het tot dusver hierdie jaar baie goeie, VLV-waardige vergaderings en sprekers gehad. Die Meivergadering was geen uitsondering nie. Die portefeulje was gesondheid en die sprekers kundiges van Eastern Cape Medical Response wat gesels het oor wat jou te doen staan as jy met ‘n kritieke mediese toestand gekonfronteer word. ’n Beroerte of hartaanval, verstikking of verdrinking, om maar ‘n paar te noem, is angswekkende gebeure wat ons as onkundiges nie weet hoe om te hanteer nie. Watse hulp verleen jy en watse hulp soek jy? By wie soek jy die hulp?

 

In die geval van ‘n hartaanval is dit drie keer meer waarskynlik dat ‘n persoon die hartaanval sal oorleef indien hy/sy gevorderde mediese hulp ontvang binne een uur na die hartaanval.

 

Simptome van ‘n hartaanval is ‘n skielike gevoel van duiseligheid, ernstige borspyn wat nie weggaan wanneer die persoon rus nie, ongemak hoog in die abdomen, vinnige flou en onreëlmatige pols, bleekgrys, klam en sweterige vel, asook die moontlike verlies van bewussyn.

 

Wat doen jy?

Maak die persoon so gemaklik as moontlik in ‘n half-sittende posisie met goeie ondersteuning vir sy/haar kop en skouers. Buig die knieë om druk op die hart te verlig. Maak klere om die nek, bors en maag los om drukking te verlig.

Skakel dadelik vir mediese hulp. Dis hier wat ECMR van hulp is. Hul reaksietyd in die Nelson Mandela Metro is ‘n maksimum van 10 minute. Die paramedici  sal hulp verleen, die pasiënt stabiliseer en ‘n ambulans kontak.

Indien die persoon ‘n geskiedenis van Angina het, moet jy hom/haar help om hul Angina-medikasie te neem.

Laat die persoon ‘n 300 mg aspirientablet neem. Die tablet moet stadig gekou word sodat dit kan oplos en makliker in die bloedstroom opgeneem kan word wanneer dit die maag bereik. Aspirien  help om bloedklonte op te breek, wat spierskade tydens ‘n hartaanval minimaliseer.

 

Vinnige voetfeite is ook met die dames gedeel, want sowat nege uit tien vrouens dra skoene wat te klein is! Die beste tyd van die dag om skoene aan te pas is in die middag, want dan is die voete die meeste geswel. Dit is uiters raar dat twee voete presies dieselfde is. Een voet is feitlik altyd langer as die ander een. Koop dus skoene vir die grootste voet om ‘n gemaklike pas te verseker.

 

Nagenoeg ‘n kwart van die liggaam se bene kom in die voete voor. Die res van die liggaam sal ook uit balans wees as die voetbene uit balans is. Daar is 52 beentjies en 250 000 sweetkliere in ‘n paar voete.

 

Stap is die beste oefening vir jou voete en die deursnee mens neem tussen 8000 en 10 000 treë ‘n dag.

 

Almal teenwoordig was dit eens dat dit nie net ‘n appel ‘n dag is wat die dokter laat wag nie. Goeie inligting en bewese feite uit ‘n kundige se mond is van groot hulp wanneer ‘n mens met kritiese situasies gekonfronteer word.

 

 

   Eugene en Celest Muller van ECMR saam met Kwakkie

Post a comment

9 − 2 =