Voëlkyk in PE omgewing

 

Voëlkyk in PE omgewing

Posted by VLV in Hercula Tak, News 20 Apr 2016

Sirkel: Middelland

Tak: Hercula

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: MM Erasmus

Datum: 19 April 2016

 

Andy Nixon en Gordon Bain het ons tak kom toespreek oor voëlkykery in die Port Elizabeth omgewing.

 

161620_5

 

Om voëls te gaan besigtig het ‘n mens net 4 goed nodig, nl. ‘n verkyker, ‘n notaboek, ‘n pen en ‘n veldgids. Hy noem die gewildste plekke rondom PE en ook die voëls wat daar aangetref word.

 

In Setlaarspark is daar ‘n wye verskeidenheid van voëls en dit is ‘n baie gewilde plek om te besoek. Hy waarsku egter dat ‘n mens nie alleen soontoe moet gaan nie. Gaan in ‘n groep en reël ook vir ‘n veldwagter om julle te vergesel. By Kaap Recife kan die drie-toon strandloper gesien word. Hierdie voëls kom van Europa af vir die somer. Die wit-malgas en die brilpikkewyn word ook hier aangetref. By die Swartkopsriviermond word reiers, flaminke en visvalke gesien.

 

Baie woudvoëls, soos die witkol janfrederik en die bosmusikant, word by die Maitlands Riviermond gesien as gevolg van die digte plantegroei daar. By Die Eiland word die mooimeisie gesien wat herken word aan hul besondere geluide wat hul maak. By die Fairview Resiesbaan word grasuile, African snipes en vleivalke gesien. Tankatara is bekend vir die sekretarisvoëls, flaminke, blou kraanvoëls en rooikeel byvreters. Die visarend, watertrapper en pappegaaiduif is volop by Sondagsriviermond.

 

By Lady Slipper word die oranjebors suikerbekkie in die fynbos gesien. Addo is weer bekend vir roofvoëls soos die bleeksingvalk en die witkruisvalk.

 

Mnr Bain het pragtige foto’s van die voëls deur middel van ‘n Power Point aanbieding vir ons gewys.

 

Deesdae met die tegnologie wat so gevorderd is, kan mense selfs ‘n boek oor voëls op hul smartphone aflaai. Die lede van die PE voëlklub kom elke eerste Saterdag van die maand by Setlaarspark bymekaar vir ‘n uitstappie en Mnr Dixon nooi die dames uit om dit mee te maak.

Post a comment

nine + 1 =